HESSEQUA NUUS - Die skoolhoof van Gerrit Du Plessis Senior Sekondêr in Riversdal, Patrick Witbooi, sou berge vir sy vrou versit. En nou, aan die begin van Julie, het hy ook die hoogste berg in Afrika vir haar verower.
Patrick (57), sy seun Dean (33) en sy broer Johnny (55) het die majestueuse Kilimandjaro in Tanzanië uitgeklim ter ere van Patrick se geliefde Delicia wat verlede jaar op 1 Julie gesterf het.
As skoolhoof van Laerskool Panorama in Riversdal het Delicia haar man se liefde vir onderwys gedeel. En dié liefde loop beslis in die Witbooi-bloed want Johnny is 'n onderwyser in Oudtshoorn.
Patrick het die idee om die reusetog na Kilimandjaro se piek - 6 km bo seespieël - aan te pak, reeds in September verlede jaar gekry, want dit was sy hartsbegeerte om dié berg uit te klim en die sege aan Delicia op te dra.
Johnny het vir Patrick gesê daar is nie 'n manier dat hy hom alleen teen daai berg sal laat opstap nie en saam het hulle planne begin maak vir die uitdaging.
"Ons het die 1ste begin klim en teen die 7de het ons die piek bereik. Dit was ongelooflik! Vir die eerste vyf of ses dae klim mens elke dag basies die hoogte van Tafelberg in Kaapstad twee keer. Dit beteken ons het die hoogte van Tafelberg omtrent 10 tot 11 keer geklim. Die dag toe ons begin klim was presies 'n jaar nadat Delicia oorlede is," vertel Johnny.
Delicia was 'n baie dinamiese vrou en Patrick hanteer haar dood nog baie swaar. Die tog na Kilimandjaro was vir hom baie emosioneel, maar sy deursettingsvermoë het hom deurgedra en sy vrou was heeltyd in sy gedagtes.
Johnny, Patrick en Dean het op die laaste stop voor die piek, Stella Point, juis 'n kiekie laat neem met Patrick en Dean wat hemde met Delicia se foto dra.
Die voorbereiding wat hulle ondergaan het vir die klim was amper erger as die klim self. Johnny het minstens 100 km
per week probeer stap, maar eers in Februarie begin voorberei, terwyl Patrick reeds verlede jaar begin oefen het.
Van links is Patrick, Johnny en Dean Witbooi by Stella Point - die laaste stop op Mount Kilimandjaro voor mens die piek bereik. Delicia se foto pryk op Patrick en Dean se hemde.
Hulle moes deurgaans ook in gedagte hou dat hulle nie voorbereid sou wees vir hoe die hoogte van die berg hul liggame sou affekteer nie. Soos mens hoër gaan raak dit moeiliker om asem te haal, maar gelukkig het alles goed afgeloop. Die broers se ouderdomme het hulle nie afgeskrik nie, en hulle het dit net stap vir stap aangepak. "Al hoe mens dit kan regkry."
Die laaste stuk na die piek, bekend as Uhuru, was die moeilikste van alles.
Patrick het reeds om middernag saam met 'n groep begin klim en Johnny het ‘n uur later gevolg saam met ‘n ander groep.
Hulle sê al het dit elke dag lank gevat om net 'n kort afstand teen die opdraande af te lê, was dit ongelooflike groot pret. Mens is ook nie alleen nie.
"Daai berg is vol mense, hoor! En in die aande stap mense met kopflitse en as jy opkyk is dit iets besonders om te aanskou. Met elke plek waar ons gekamp het is ons soos royalty behandel deur die maatskappy, Ascend Tanzania, waardeur ons gewerk het. Hulle het mense wat jou tent vir jou opslaan en aandra van een kampplek na die volgende, en hulle het die lekkerste kos gemaak - amper soos vyfster etes! Dit was ongelooflik!"
Kos, water of 'n lekkerny was altyd beskikbaar. "Ons het sommer burgers en chips, hoender, en lekker warm sop van alle soorte gekry. Dit was net fantasties. Selfs die manne wat ons toerusting aangedra het was wonderlik. Terwyl ons teen die berg opstap, hardloop hulle sommer verby ons - ongelooflik! Ons het net klein day packs saam met ons gedra, meestal met water en ekstra warm klere in."
Sneeu was daar min, omdat dit tans somer is rondom die berg, maar weens die gletsers op die bergpieke was dit steeds koud. Die Witboois het daagliks, onder hulle sneeubroeke en -baadjies, vier tot vyf lae klere aangetrek. 'n Gunsteling herinnering - wat Johnny beskryf as 'n eens in 'n leeftyd ervaring - was toe hy en sy broer en broerskind op Stella Point poseer het vir die foto ter ere van sy skoonsus.
"Ek het baie emosioneel geraak - dit was net voor ons die piek bereik het. Ek sal nooit daai gevoel of prentjie vergeet nie." Om op die piek self te staan is 'n belewenis op sy eie.
"Dit was oorweldigend. Jy borrel met emosies en die trane loop net. Mens dink ook aan die mense wat dit nie maak nie. Party mense bereik nie die piek nie, en ons het gehoor daar is mense wat selfs sterf. Hierdie is 'n journey vir mens, party is desperaat om daarbo uit te kom. Maar ons het dit gemaak!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’