HESSEQUA NUUS - Druk die knoppie en daar is lig.
Ons aanvaar elektrisiteit as vanselfsprekend, tot beurtkrag almal in hul spore tot stilstand dwing.
Dan vlam die gesprekke oor alternatiewe kragopwekkingsmetodes opnuut op en elkeen dink sý plan gaan die land se probleme oplos.
Die vader van moderne kragstasies was die Engelse wetenskaplike Michael Faraday (1791 - 1867.) Hy het in 1831 agtergekom dat die magnetiese energie wat ontstaan wanneer magnete binne opgerolde draad beweeg, in elektriese energie wat deur die draad oorgedra word verander.
Tradisionele bronne vir elektrisiteit is steenkool, olie, gas en kernkrag. Dié materiale word verbrand om water in hoë druk ketels te verhit tot stoom teen temperature wat wissel van 500ºC tot 535ºC. Die stoom draai groot turbines wat aan draaiende magnete gekoppel is. Die proses wek elektrisiteit op.
Die grootste nadeel van hierdie metodes naas besoedeling en kweekhuisgasse is dat die brandstowwe nie hernubaar is nie. Kernkrag bring ook die addisionele hoofpyn van radioaktiewe afval mee. Son, wind, water en biomassa (plant- en dierlike materiaal wat sonenergie geabsorbeer het) is werkbare alternatiewe. Geotermiese en seegolf-energie word nie tans in Suid-Afrika gebruik nie.
Kragstasies regdeur die land is met kraglyne van aluminium en koper aan mekaar verbind. Die netwerk van lyne en torings word die nasionale verspreidingsnetwerk (national grid) genoem. Die elektrisiteit in die netwerk is onder baie hoë druk en word deur middel van substasies na 240V vir huishoudelike gebruik verminder.
Elektrisiteit kan nie opgegaar word nie en die netwerk moet van minuut tot minuut aanpas om terug te sit wat deur verbruikers uitgehaal word. Wanneer een punt van lewering skielik ophou om krag by te dra, is die balans versteur en die netwerk kan nie aan die aanvraag voldoen nie - vandaar beurtkrag.
Die naaste kragstasies aan die Hessequa-streek is Gourikwa by Mosselbaai, Palmiet by Grabouw en Atlantis en Koeberg naby Kaapstad. Die voedingsnetwerk vir die Suid-Kaap is vanaf Droërivier substasie naby Beaufort-Wes en Bacchus substasie naby Villiersdorp. Die uitgestrektheid maak die Suid-Kaap kwesbaar vir kragonderbrekings en alternatiewe metodes van kragopwekking is noodsaaklik.
Sonkrag sal nie prakties wees vir die hoeveelheid elektrisiteit wat nodig is vir die nasionale netwerk nie, want die gebied het minder sonskynure as die Karoo. Windopwekking kan lewensvatbaar wees, maar hou ook moontlike nadele soos geraas in. In Hessequa is in 2012 voorgestel dat vier kommersiële windenergie fasiliteite naby Swellendam, Heidelberg, Albertinia and Mosselbaai opgerig word. Elke perseel sou uit ongeveer 70 turbines wat tot 3 MW elk sou kon opwek, bestaan. As gevolg van besware ten opsigte van die moontlike visuele en omgewingsimpak het die projek nog nie afgeskop nie.
n Beurtkragskedules kan by http://www.hessequa.gov.za/municipal-services/electricity/ gekry word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'