Update Video
SUID-KAAP NUUS EN VIDEO - 'n Storm is aan die broei onder oudleerkragte en ander oudstaatsdienswerkers wat in die apartheidsjare nie hul regmatige pensioenuitbetalings ontvang het nie.
Destyds was staatsdienswerkers volgens ras geklassifiseer en het verskillende salarisse en pensioenvoordele ontvang.
Regstelling van pensioene aan sulke benadeeldes is reeds in 1998 en in 2002 aan die Bargaining Council (staatsdienswerkers se onderhandelingsraad) voorgelê en goedgekeur. 'n Proses is toe begin waarvolgens benadeeldes aansoek vir regstelling kon doen.
Hierdie aansoekproses is deur die onderhandelingsraad deur resolusie 03 van 2012 op 31 Maart 2012 gesluit verklaar. Die proses word nou afgehandel en enkele oud-staatsdienswerkers het reeds regstellingsuitbetalings ontvang.
Gedurende 2010, 2012, 2016 en 2017 is omsendbriewe aan skole en ander werksplekke gestuur waarin gevra word dat afgetrede staatsdienswerkers wat gedurende die apartheidsjare in diens was, aansoek moes doen vir hierdie 'benadeelde pensioene'.
Aangesien hulle toe nie meer deur skole bereikbaar was en ook nie meer aan vakbonde behoort het nie, is daar derduisende staatsdienswerkers wat nie eens hiervan geweet het nie. Daar word gesê dat as die onderwys- en ander staatsdepartemente ernstig was met hierdie pensioenregstelling, genoemde departemente hul voorneme wyd en syd in alle media, insluitende die koerante, bekend moes gemaak het. Die redenasie is dat die proses nie behoorlik gevolg is nie en dat benadeeldes nou vir die tweede keer benadeel word.
Kyk 'n video hieronder.
Bykans 60 afgetrede onderwysers en werkers van verskillende staatsdepartemente het op Woensdag 15 Mei 'n inligtingsessie hieroor in Kairos Senior Sekondêr se skoolsaal bygewoon. Tom Willemse, oudinspekteur van skole in die Suid-Kaap, het die besprekings gelei. Hy en sy komitee wil die benadeeldes graag help om die geld wat mense toekom, op te eis. 'n Komitee, onder leiding van dr. David Piedt en Willemse werk nou vrywilliglik om die persone wat kwalifiseer, op te spoor. Cynthia Roberts is die sameroeper op Heidelberg.
Op Oudtshoorn het sowat 1 000 mense op Maandag 6 Mei 'n soortgelyke vergadering bygewoon; in George 500 en op Mosselbaai 400. Intussen het honderde oud-staatsdienswerkers op verskillende plekke in die Suid-Kaap en in Kaapstad saamgetrek om inligting oor die aangeleentheid te kry en uit te ruil. In Blackheath het meer as 1 500 afgetredenes Donderdag 16 Mei saamgetrek.
Die aksiekomitee se doel is om die afsnydatum van 31 Maart 2012 verleng te kry om diegene wat reeds uit die stelsel is, geleentheid te gee om aansoek te doen. Dieselfde resolusie maak ook voorsiening vir 'n dispuut, 'n uitweg wat ook later deur die aksiekomitee oorweeg gaan word.
Die aksie het landwye belangstelling uitgelok en oudleerkragte uit ander provinsies het ook nou begin navraag doen.
Tom Willemse in gesprek met Basil Beukes, Yvonne Michaels en Zulphah Hendricks, al drie van Riversdal. Foto’s: Alex Marshall, korrespondent
Lees 'n vorige artikel: Verleng die afsnydatum
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'