HEIDELBERG NUUS - Twee bekende vroue van dié dorp is deur Suid-Kaap Forum korrespondent Alex Marshall besoek om hul siening oor Vrouemaand te hoor:
Brenda Roodt, landdros
Sy verwelkom hierdie geleentheid in Augustus, want nou kry mens kans om addisionele fokus te plaas op vroue se posisie en hul griewe. "Vroue en kinders kry geweldig swaar in ons gemeenskap. Geweld teen vroue kom hoofsaaklik voor in huwelike. As die verdagte in hegtenis geneem word en borgtog word geweier, kom baie vrouens vra dat die saak teruggetrek word. Dit is vir my ontsettend hartseer, want die siklus begin maar net weer."
Sy voel die euwel lê in die sosio-ekonomiese toestande waaronder mense lewe. "Ons moet 'n verskil maak; ons moet families teen gesinsgeweld, alkohol- en dwelmmisbruik beskerm deur na die omstandighede te kyk waarin mense lewe. Vrouens moet leer om mekaar te ondersteun en aan te moedig om nie sake terug te trek nie en om interdikte aan te vra."
Merle Paige, gemeenskaps- en kerkleier
Sy is ook voorsitter van die Heidel Senior Burgerklub. "In ons gemeenskap word nie genoeg vir vrouens gedoen nie. Niemand wil hand uitsteek waar geweld teen huisvroue en kinders gebruik word nie. Dit is so dat die polisie nie juis wil inmeng met 'huismoles' nie, maar dis juis daar waar die lelikste dinge met vroue gebeur. Die kerk kan ook meer doen om vroue te organiseer. Daar is so baie talente binne die kerk wat benut kan word. Vroue kan bemagtig word binne die kerk om meer buite die kerk te doen.
"Mens sukkel baie met die plaaslike munisipaliteit om iets vir vroue in die gemeenskap te doen. Ons as senior vroue vergader byvoorbeeld vir naald- en kralewerk twee keer per week in 'n garage van die gemeenskapsaal, 'n plek wat heeltemal onvoldoende is. Mens kan maar net bid dat die munisipaliteit eendag sal reageer op ons vele versoeke vir beter akkommodasie.
Merle Paige. Foto's: Alex Marshall, korrespondent
Kry ons 'n groter plek, kan ons al die vrouens wat ons moes wegwys, laat kom. Dan kan die goeie werk van vroue wyer versprei word. Ek glo daaraan dat as ons die vroue bemagtig, bemagtig ons die gemeenskap."
Kommentaar deur Hessequa-munisipaliteit
Die Heidelberg Senior Burgerklub het in Junie 2013 aansoek gedoen om die dubbelmotorhuis aan die agterkant van die Duivenhoks-gemeenskapsaal by die raad te huur. Die uitvoerende burgemeesterskomitee het besluit dat dit nie aan die klub verhuur kan word nie omdat dit nie geskik vir menslike gebruik is nie.
Verdere oorweging sou geskenk word aan die lokaal, aangrensend tot die biblioteek. Op 28 Februarie 2014 is daar weer 'n versoek van die klub ontvang vir die huur van die motorhuis.
Hulle is bewus van die toestand daarvan en is bereid om dit so te gebruik.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'