HESSEQUA NUUS - Volgens die polisie neem misdaad tydens feestyd in enige en alle streke toe.
Dit is elke besoeker en inwoner se verantwoordelikheid om die polisie te help om misdaad eerstens te verhoed en te bekamp.
Ongelukke op die N2 begin toeneem en bestuurders moet veral verby dorpe stadiger en versigtig ry.
Lt.kol. Delicia Isaacs het gesê: “Ons doen weereens ’n beroep op die gemeenskap om die polisie se oë en ore te wees. Wees veral nou, ekstra waaksaam.”
Kol. Venia Daries, media woordvoerder van die plaaslike polisie het gesê: “Die gemeenskap moet veiligheidsmaatreëls as belangrik beskou en dit veral die feesseisoen toepas om misdaad te voorkom.
Valse sake wat vir versekering doeleindes gemaak word, sal vervolg word.
Ons vra die gemeenskap om veral namiddag versigtig in Jurichpark en by die ou treinstasie te wees, dit is een van ons gevaarsones.
U samewerking sal baie waardeer word om misdaad te bekamp. Hoop u geniet die vakansie, feesseisoen en veilig wees.”
Pas dié maatreëls toe:
- Moenie inkopies buite jou motor los terwyl jy dit uitlaai en in die huis indra nie. Onlangs is daar ’n groepie gewaar wat verby stap, die pakkies gryp en daarmee weghardloop.
- Die afgelope tyd word batterye, ‘starters’ en bande gesteel.
- Sluit voertuie, deure en vensters.
- Maak motorhuisdeure en hekke toe, hou dit gesluit.
- Wees waaksaam wanneer jy transaksies by ’n OTM doen. Een van die diewe trek jou aandag af en die ander steel jou kaart.
- Waardevolle items moenie rondlê.
- Kinders moet fietse vassluit of bêre en glad nie op die grasperk laat lê nie.
- Meld jou woning by die polisie aan wanneer jy met vakansie gaan.
- Met enige misdaad bv. diefstal uit motorvoertuie en huisbrake moet vingerafdrukke geneem word.
- Moenie met oorfone in jou ore stap of bestuur nie. Dit maak jou ’n teiken vir diefstal. Jy kan nie hoor wanneer iemand jou agtervolg of wanneer ’n motor op jou afry nie en bestuurders kan nie hoor wat om hulle aangaan nie.
- Kyk uit vir en wees versigtig vir persone met ‘hoodies’/sweetpakbaadjies met ’n kappie in donker hoeke en vir kwaadgeld rondhang.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'