RIVERSDAL NUUS - 'n Boorling van Riversdal, Elizabeth Moolman, het Dinsdag 6 Junie haar 110de verjaarsdag gevier.
Op die oog af lyk sy glad nie 110 jaar oud nie. Eerder veel jonger, maar sy is 'n tipiese ouma wat graag glimlag.
Wanneer jy met haar praat, is dit 'n sagte, amper onhoorbare stemmetjie wat nie 'n enkele slegte ding van ander mense kan uiter nie.
Elizabeth was getroud met Johannes Moolman en 11 kinders is uit die huwelik gebore. Sy spog met 37 kleinkinders, 59 agterkleinkinders en volgens familie is die agter-agter kleinkinders ontelbaar.
Haar resep vir 'n vol lewe is 'n gesonde leefstyl, om hardwerkend te wees van 'n jong ouderdom af en om fiks te bly so lank as wat dit moontlik is. En die belangrikste: "Eer jou vader en jou moeder," sê sy. Dis duidelik 'n wenresep.
Volgens die kleinkinders is haar gesondheid en geheue baie goed. In haar 90's het sy geval en haar heup gebreek, maar dit het haar nie gekeer om steeds selfversorgend te wees nie. Sy kan nog loop, haar bed opmaak en doen so te sê alles vir haarself en is baie gesond.
Vriende en familie ken haar as 'n godsdienstige persoon wat baie nederig en saggeaard is. Netheid is vir haar 'n prioriteit, maar so ook haar familie en kinders.
Haar gunsteling sêding: "Ag, maar jy is pragtig," spreek van 'n vrou wat al diep spore op hierdie aarde getrap het en nog steeds altyd die mooi in iemand anders raaksien.
Sondag gaan die familie en vriende weer verder verjaarsdag vier vir diegene wat dit nie Dinsdag kon maak nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’