HESSEQUA NUUS - Die voormalige direkteur van siviele dienste in George, Harold Basson is die nuwe direkteur van tegniese dienste van Hessequa-munisipaliteit.
Die Hessequa-raad het gister, 13 Desember, eenparig besluit Basson is die regte persoon om die munisipaliteit se infrastruktuur te bestuur en ontwikkel. Hy sal in Januarie by die munisipaliteit begin.
As tegniese hoof van Hessequa is hy aan stuur van sake by siviele- sowel as elektro-tegniesedienste, terwyl dié twee funksies in George geskei is.
In ‘n ironiese kinkel is ‘n vorige direkteur van tegniese dienste in Hessequa, Reggie Wesso, onlangs in Basson se ou pos in George aangestel, na hy in Mei vanjaar uitgetree het.
Basson sê die 35 jaar wat hy en sy vrou, Lidia in George gebly het, was van die lekkerste jare van sy lewe.
“Ons het baie goeie vriende gemaak en dit is met hartseer waarmee ons George sal verlaat. Dit was 'n voorreg om in so 'n pragtige omgewing te werk en te bly. Ek het George sien groei van 'n kleinerige dorp na die kleinerige stad wat dit vandag is.
"Vir 31 jaar was ek uit die aard van my rol by George-munisipaliteit direk betrokke by die vestiging en onderhoud van infrastuktuur om te verseker dat dit aan 'n groeiende aanvraag voldoen. Uit 'n beroepsoogpunt was dit fantasties om deel te kon wees van die spesifieke tydperk in George se geskiedenis. Ek is dankbaar vir die goeie kollegas waarmee ek kon saamwerk.”
Basson is dankbaar vir die vertroue wat die raad in hom gestel het. “Ek is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging in 'n bekende omgewing.” Basson hou gereeld vakansie op Stilbaai waar hy ook ‘n huis besit. “Hessequa se verantwoordelikheid strek oor verskeie dorpe oor 'n groot gebied en bring daarmee ook spesifieke uitdagings. Die tegniese departement speel 'n groot rol in die dienslewering aan die gemeenskap. Saam met die Hessequa-raad en personeel hoop ek om ook in dié gemeenskap 'n bydrae te maak.”
Hessequa-munisipaliteit is gesetel in Riversdal en bedien dorpe soos Heidelberg, Stilbaai, Albertinia, Slangrivier, Witsand en Gouritsmond.
Die munisipale bestuurder van Hessequa, Johan Jacobs sê onderhoude is Vrydag 8 Desember deur ‘n paneel verteenwoordigend van al die politieke partye op die raad gevoer. “Op Woensdag 13 Desember is die verslag vanaf die onderhoudspaneel aan die munisipale raad van Hessequa voorgelê en die raad het eenparig besluit om mnr. Harold Basson aan te stel as Direkteur Tegniese dienste met ingang 1 Januarie 2018 vir ‘n termyn van 3 jaar en 6 maande. Die aanstelling is gedoen met die spesifieke bepaling dat daar terselfdertyd ‘n mentorskapprogram gevolg word om jong persone, met die nodige kwalifikasies, en wat voldoen aan die vereistes van die wet op gelyke indiensneming, ook te bekwaam as professionele ingenieurs.”
Jacobs sê die korrekte prosedure is gevolg met die aanstelling en sal die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, nou so ingelig word ten einde aan die stelselswetregulasie te voldoen.
“Ek is baie dankbaar om iemand met die ervaring en kwalifikasies van mnr. Basson te verwelkom in die bestuurspan van Hessequa-munisipaliteit en sien baie uit na die nuwe uitdagende tyd wat vir Hessequa voorlê. Hessequa het die afgelope vier jaar agtereenvolgens ‘n skoon oudit ontvang en almal werk saam om dit so te behou. Vir die afgelope twee jaar was daar slegs vir ‘n tydperk van ses maande ‘n voltydse Direkteur Tegniese dienste by Hessequa en ander senior personeel moes die verantwoordelikheid van die tegniese afdelings deel.”
Die vakature het ontstaan met die bedanking van Lindile Zincume wat ‘n betrekking in die privaatsektor aanvaar het.
Die munisipale bestuurder van Hessequa, Johan Jacobs sê hy is dankbaar om iemand met die ervaring en kwalifikasies van Basson te verwelkom.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD, GROUP EDITOR-AT-LARGE
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'