Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - 'n Egpaar wat voorheen in die polisiediens was, het hulle hier gevestig met die doel om die Evangelie uit te dra.
Christel Cloete en haar man Albert het na net meer as 60 jaar gesamentlike diens in die polisie na haar geboortedorp teruggekeer.
Na hulle onderskeidelik in 2014 en 2015 afgetree het, het hulle voltyds by die bediening in Kuilsrivier betrokke geraak.
Albert, wat as adjudant-offisier 33 jaar diens in die polisie verrig het, beklee nou die amp van pastoor. Christel, wat 28 jaar diens gedoen het, het die laaste paar jaar die rang van majoor gehad. Sy was in 2011 die naaswenner in die Prestige Vrou van die Jaar-toekenning in die Wes-Kaap.
Tans werk hulle oor die hele Hessequa-streek waar veral Christel op die bemagtiging van vroue volgens die Evangelie fokus.
Christel, ma van 'n seun en dogter en ouma van een kleinseun, meen dit is belangrik om die rol van die vrou, wat 'n ankerrol in die samelewing moet vervul, te versterk. "Ek wil vroue bemagtig deur vir hulle te sê om aan te hou droom en die rol waarvoor hulle geroepe voel, te vervul."
Sy het hier grootgeword en by EK Primêr skoolgegaan voor sy na Gerrit du Plessis Senior Sekondêr is waar sy in 1984 matrikuleer het. Daarna het sy drie jaar lank as kelnerin by 'n bekende restaurant langs die N2 gewerk.
Destyds het sy al daarna gehunker om haar volle potensiaal op akademiese vlak te ontwikkel, wat sy aan die polisiekollege in Bishop Lavis in 1987 reggekry het. "Ek sal altyd onthou hoe juffrou Groenewald, my gr. 8-opvoeder, my potensiaal in 1980 raakgesien en gesê het ek gaan dit nog ver maak in die lewe."
Volgens die passievolle Godsvrou dien dit as motivering as dinge die dag vir haar moeilik raak. Sy hoop om Groenewald eendag op te spoor en haar persoonlik te bedank vir haar bydrae tot haar eie sukses.
Christel leef vandag haar droom, wat sy voel deur God bewaarheid is, uit deur die gebroke gemeenskap te help herstel deur die woord van God aan hulle voor te hou. Sy het reeds in Heidelberg en Slangrivier opgetree en is op 7 en 8 September by die AGS-Oos kerk op Heidelberg met tentdienste besig. Kontak haar by 073 226 6122 vir meer inligting.
Majoor Christel Cloete as naaswenner van die Prestige Vrou van die Jaar-toekenning in die Wes-Kaap in 2010/11.
Lees 'n vorige artikel hier: Polisie-egpaar versprei nou Evangelie
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'