HESSEQUA NUUS - Die eerste maand van 2020 is verby en talle Nuwejaarsvoornemens het saam met die partytjiehoede op die ashoop beland.
Besluite soos ‘geen suiker meer vir my nie’ of ‘gim toe elke oggend’ het na sulke goeie planne geklink terwyl die sjampanjeproppe geskiet het.
Die meerderheid mense se voornemens sneuwel egter lank voor dit ’n positiewe verskil kon maak.
Hoewel dit maklik is om soos ’n mislukking te voel, sê kenners ons stel onsself eintlik op om te faal. Ons ingeboude strewe om altyd te verbeter veroorsaak dikwels dat ons ’n alles-of-niks benadering volg.
In plaas van om nuwe doelwitte stap vir stap te bereik, probeer ons met een sprong van begin tot einde vorder. ‘Ek gaan gesonder keuses in 2020 maak’ is baie meer haalbaar as ‘ek hou summier op met suiker eet’.
Hoe dan gemaak as die appelkar met voornemens klaar omgeval het? Daar is ’n paar dinge wat kan help.
Identifiseer jou eintlike doelwit
Jy het dalk nie elke oggend geoefen soos jy op Nuwejaarsdag beplan het nie, maar is jou rede vir die voorneme dalk eerder net om gesonder te leef? Dit bied ’n baie wyer spektrum van dinge waarmee dieselfde doelwit bereik kan word.
Skryf jou doelwitte neer
Woorde op papier kry ’n lewe van hul eie en word konkreet in mens se gedagtes. Visualiseer die bereiking van jou doelwit. Sien in jou gedagtes bv. hoe ’n gesonder jy sal lyk en dink hoe jy sal voel, watter dinge jy sal aanpak ens.
Moenie bekommer as jy nie by die plan hou nie
Niemand is perfek nie. Moenie ophou werk na jou einddoel toe nie. Gee jouself krediet vir elke ding wat jy regkry.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'