Gallery Video
WITSAND NUUS EN VIDEO - Die eerste ontsoutingsaanleg in Suid-Afrika wat met sonkrag aangedryf word en in Witsand aangelê is, is Donderdag 13 Desember getoets en veilig bevind om vars water aan die gemeenskap te verskaf.
Dié projek het ongeveer 'n jaar en 'n half gelede op die been gekom toe Hessequa-munisipaliteit, wat gesoek het na innoverende idees en beleggings, deur prof. Erwin Schwella met ’n Franse ingenieur, Patrice Boyer, in verbinding gebring is.
’n Paar maande later, in Julie vanjaar, word die ontsoutingsaanleg geloods met Boyet as projekbestuurder.
Die mikpunt was om dit einde Oktober af te handel.
Die Franse en Wes-Kaapse regering het hulle verbind om R9 miljoen in die projek te belê.
Drie maande later, op Donderdag 13 Desember kyk al die belanghebbendes teenwoordig toe hoe Wes-Kaapse minister van ekonomiese sake, dr. Ivan Meyer ’n glasie water, getrek uit die Breederivier en deur die ontsoutingsaanleg gesuiwer, met een teug wegslaan.
Kyk 'n video hieronder:
Vir die eerste keer in die geskiedenis van dié kusdorpie sal inwoners en vakansiegangers hul krane kan oopdraai en die water net so kan drink.
• Lees meer in Suid-Kaap Forum, asook aanlyn
Van links is Munisipale bestuurder Johan Jacobs, lid provinsiale wetgewer Dennis Joseph, minister van ekonomiese sake dr. Ivan Meyer, die Franse verteenwoordiger, uitvoerende burgemeester Grant Riddles, onderburgemeester Johannes Hartnick, minister Donald Grant, direkteur tegniese dienste Harold Basson en professor Erwin Schwella van die Universiteit Stellenbosch.
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'