Update
ALBERTINIA NUUS - Die Vaaltyn-kinders wat in afsonderlike voorvalle kort na mekaar oorlede is, is Saterdag 24 Februarie ter ruste gelê.
In die eerste voorval is Jody, 'n graad 1-leerder van Oker Primêr oorlede nadat sy by haar pleegouer, Monica Vaaltyn se huis geval en vermoedelik haar kop teen 'n klip gestamp het.
Volgens Monica het die kinders oudergewoonte na skool hul skoolklere uitgespoel en opgehang. Een van die kinders het haar kom roep nadat Jody geval en op die grond bly lê het.
''Ek het dadelik met haar na my bure gehardloop en daarvandaan is ons na die plaaslike kliniek, waar die dokter en verpleegpersoneel probeer het om haar te red, maar tevergeefs.''
Monica sê sy versorg Jody reeds drie jaar en daar was 'n hegte band tussen hulle.
''Ek wil graag die prinsipaal, Jacobus Tarental, bedank vir hulle bystand met die begrafnisreëlings en ander sake. Hulle is ware steunpilare.''
Jody se jonger boetie, Jeremiah, wat by sy biologiese ma in Grassy Park, Kaapstad gewoon het, is Saterdag 17 Februarie daar deur 'n voertuig getref.
Hy het die volgende dag aan sy beserings beswyk.
Die Nuwe Apostoliese Sondagskool lewer 'n sangitem tydens die diens. INLAS: Van die leerders dra die kissies na die lykswa.
Honderde begrafnisgangers het opgedaag om van die kinders afskeid te neem.
Leerders van die skool het 'n erewag by die kerk gestaan, die Nuwe Apostoliese Sondag-skool het 'n item gelewer, terwyl mej. Eunize Jansen met trane in haar oë 'n gedig voorgelees het.
Tarental het ook sy simpatie aan die familie betuig.
ARTIKEL & FOTO'S: HEINRICH FORTUIN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'