ALBERTINIA NUUS - Die voortslepende droogte eis ook sy tol van bye.
"Swermgetalle en heuningproduksie het afgeneem omdat beskikbare voedingsbronne weens die droogte onder druk bly," sê André de Jager, voorsitter van die Suid-Kaap Byebedryfsvereniging (SKBBV). Die vereniging, wat tans sowat 20 lede het, het Saterdag 14 Maart sy amptelike jaarvergadering by die gholfklub op die dorp gehou.
Die vereniging se gebied strek van Plettenbergbaai tot Swellendam, maar sluit die Knysna-gebied uit waar die Knysna-byeboerorganisasie (KBA) sake hanteer. Byeboere in die res van die provinsie val onder die Wes-Kaap Byebedryfvereniging (WKBBV).
"Ons het 'n ooreenkoms met albei verenigings aangegaan om voortaan saam te werk om inligtings- of velddae te reël en kundigheid op 'n gereelde basis te deel," sê De Jager. Elke vereniging behou sy eie identiteit en konstitusie.
Ledegeld sal voortaan R370 per jaar wees, met R100 ekstra vir 'n addisionele lid soos 'n eggenoot of werker. Dit is in lyn met WKBBV se ledegeld.
Alle byeboere word wetlik verplig om by die departement van landbou te registreer. Die registrasie is gratis en is vir twee jaar geldig.
Komiteelede buiten De Jager sluit Ryna Sauerman, Kobus Vos, Oubaas Muller en Pietie de Jager in. Thys Rall en André Kruger het bedank.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'