Update
STILBAAI NUUS - Die gewilde Hessequa Heritage-fees vind op Saterdag 21 September vir die derde agtereenvolgende jaar op Stilbaai plaas.
Drawwers kan 'n vyf of 16 km-roete aanpak wat by die toerismeburo eindig waar die Brood- en Beskuitfees aangebied word.
Die 16 km-veldren wat om 08:30 by die getypoel in Jongensfontein begin neem drawwers en stappers kuslangs tot by die buro. Dit word as een van die mooiste roetes langs die kus gereken en deelnemers kan die see sien en hoor terwyl hulle die verskeidenheid diere en voëls op die roete geniet.
Verskeie van Jongensfontein en Stilbaai se bekende bakens soos die vingerklip en die historiese museum in Jongensfontein, die gat in die rotse by Jongensgat, Stilbaai se oeroue visvywers, die Skulpiesbaai-natuurreservaat met sy interessante paadjies, die steenmonumentjie in die see en bekende strandhuisies met hul helder blou en pienk kleure vorm deel hiervan. Die 5 km-roete begin om 09:00 by die parkeergebied by Skulpiesbaai en volg dieselfde paadjie as die 16 km wedren.
Deelnemers kan vooraf aanlyn by www.mystilbaai.co.za of Vrydag 20 September vanaf 14:00 by die toerismeburo inskryf.
Saterdagoggend kan deelnemers vanaf 06:30 by die parkering langs Stilbaai-gemeenskapsaal inskryf, waarvandaan bussies na die twee wegspringpunte sal vertrek.
Geen inskrywings sal by die wegspringpunte hanteer word nie.
By die eindpunt sal die geur van braaivleis en vars gebak deelnemers en feesgangers verwelkom. Dit begin om 09:00 en toegang is gratis. Besoekers kan verskeie interessante stalletjies met kos en snuisterye, lekker musiek en vermaak vir die kinders verwag.
Al die inligting, soos koste om in te skryf is by die toerismeburo beskikbaar en hulle kan by 028 754 2602 geskakel word. Besoek die webtuiste www.mystilbaai.co.za of kontak Elza Thiart-Botes by 082 458 8517 in verband met die veldrenne. Die fees word deur Hessequa-munisipaliteit, Harcourts Stilbaai en Postnet Riversdal moontlik gemaak.
Lees 'n vorige artikel hier: Hessequa Heritage fees 2019 om die draai
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'