Update
HEIDELBERG NUUS - Dié dood van twee jong vroue die afgelope naweek het die gemeenskap diep geskok.
Wat dit erg tragies maak is dat die twee oorledenes, Elize Moolman (43) en Patricia 'Dinky' Gelderbloem (44), albei klein kindertjies van vyf en drie jaar oud agterlaat.
Patricia was die eggenoot van 'n voormalige wyksraadslid, James Gelderbloem.
Die eerste skok was op Vrydagoggend, 19 Mei, toe Moolman, wat Dinsdag 16 Mei in die hospitaal in Riversdal opgeneem is, aan nierversaking gesterf het. Haar ma, Muriel Moolman, vertel hartseer dat Elize aanvanklik vir 'n bloedklont in haar been opgeneem is.
"Ek is Vrydagoggend vroeg ontbied om hospitaal toe te kom, maar met ons aankoms het sy reeds gesterf."
Moolman laat haar dogter Monique, seun Enwin, asook haar ouers en 'n broer en suster agter.
Die begrafnisdiens vind Saterdagoggend om 09:00 by die huis in Adamsingel, Joe Slovo Park, plaas en daarna om 10:00 vanuit die Nuwe Apostoliese Kerk-Oos.
Gelderbloem het volgens haar man Vrydagmiddag laat kortasem geraak en is blitsig per ambulans na die hospitaal geneem.
Met haar aankoms by die hospitaal in Riversdal is sy by noodgevalle dood verklaar.
Sy laat benewens haar man, ook een seun, twee dogters, haar ouma en een broer agter.
Haar begrafnisdiens vind Saterdagoggend, 27 Mei, om 10:00 by die huis in Young-sirkel plaas en daarna om 11:00 vanuit JF Neumann Memorial Congregational Church. Die begrafnisdiens is Woensdagaand voorafgegaan met 'n roudiens by dié kerk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’