Update
HESSEQUA NUUS - Die pistoolskoot het presies om vyfuur die oggend geklap om die 145 atlete, wat aan die Vlakte-marathon deelgeneem het, op die "pad van pyn" weg te stuur.
'n Tartende 42,2 km van op- en afdraandes tussen Heidelberg en Witsand.
Sowat twintig minute later het die voorloper, Bernardo Fredericks, aan die bo-punt van 'n energietappende opdraande verby my gedraf. Met kort intervalle het die ander gevolg en skalks na die kamera geloer.
Was daar 'n bedekte boodskap in hul oë van "ja, ek draf ... maar jy nie!" Of was dit maar net my verbeelding?
Ek is een van daai gelowiges wat vas glo die wiel het gekom om te bly. Net om te dink aan die klomp wat jaarliks aan die Comrades deelneem, maak my moeg.
Bernardo het die afstand in 02:29:31 klaargemaak terwyl die laaste atleet (05:30:51) vir bykans vyf en 'n halwe uur op die pad moes deurbring om die marathon te voltooi.
Ons kry nie juis veel marathons in dié geweste nie en mense weet dus nooit hoe om te reageer nie. Afgesien van die helpers by die talle waterpunte op die roete, het daar oral groepies mense saamgedrom om die atlete aan te moedig.
Dalk was dit nog té vroeg, maar die voorlopers, strak en vasberade, is verby sonder enige oorentoesiastiese aanmoediging wat gewoonlik sulke wedlope kenmerk. Dis meer beskore vir die klomp agterosse.
Die 305 deelnemers aan die halfmarathon is nie minder ernstig oor dié hardlopery nie en self die fiksstes wat aan die 10 km-
wedloop deelneem, was gefokus en oorgehaal om hul vinnigste tye te behaal. By baie van hulle was daar 'n onversetlike oortuiging dat dit wat hulle doen, goed én reg is.
Dalk wil hulle jou laat skuldig voel: "Julle wat oor naweke laat slaap en niks doen nie, pasop. Jou bloedsomloop gaan lol, jou hare gaan uitval en slegte tande is jou voorland. Gaan liewers uit en gaan draf. Dís goed vir jou!"
Ek moeg? Watwou, ek's reg vir nog 'n 10 km.
Die wenner hier, Francois Maquassa, het die 21,1 km in 01:09:05 afgelê. En die laaste atleet (03:55:18) het ná bykans vier uur op die pad by die eindpunt aangekom. Dis amper vinniger Kaap toe van George af - met 'n motor - en dis pynloos.
Maar as jy werklik 'n gevoel wil kry waaroor al die drawwery werklik gaan, dan moet jy die atlete sowat 'n kilometer voor die eindpunt gaan inwag. Trane van vreugde, trane van pyn, maar, uiteindelik, die ekstase met die eindstreep in sig. En die wete dat oorlewing eintlik maar sukses beteken.
Dis veral die agterosse en bittereinders in al die wedlope, kortes ingesluit, wat die hart en siel van sulke wedlope uitmaak. Onder die luide aanmoediging van 'n jubelbrigade - daar is altyd 'n klompie superfikses naby die eindpunt, klaar uitgerus en nog bruisend van energie - om hulle oor die laaste 500 m in te dra.
Dankie tog, die eindpunt is in sig.
Dis die klompie wat gereeld aan wedlope deelneem, nie met die hoop om te wen nie, maar net om hulself uit te daag. Dis hulle wat die grootste toejuiging uitlok en dit verdien. Die ou omie met 'n sweetband om sy kop en 'n tjoepie om die middelrif wat hy moet saamsleep. Ou tekkies op hul laaste bene en 'n drafbroekie wat waarskynlik uit die Tweede Wêreldoorlog dateer.
Toejuiging ook vir die tannie wat blaas-blaas naderkruip met 'n klein keffertjie op tou. Enigeen wat binne twee meter van sy ounooi kom, word met 'n hees blaffie en klein ontblote tandjies die skrik op lyf gejaag.
En die drie jong vroue, uitgetof in die nuutste draftooisel meer geskik vir die loopplanke van Milaan, word uitbundig begroet. Op die een se drafhempie geborduur, "Ek draf, want ek kan." Dit ontlok onmiddellike reaksie van 'n groepie jongmanne langs die pad: "En wat doen jy as jy nie draf nie...?"
'n Bejaarde egpaar se aanmoediging van "amper daar my kindjie" en "nie meer vêr om te gaan nie" gee nuwe energie en bring glimlagte op die gefolterdes se gesigte.
En dit beskryf die 20ste herdenking van die Vlakte-wedloop. Mag dit net in gewildheid en sukses groei. Lank lewe die Vlakte-marathon.
Met wapperende hare kom sy nadergedraf.
Dankie vir die aanmoediging, wuif dié jong vrou.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'