RIVERSDAL NUUS - Die Voortrekkers het die langnaweek in April aangegryp om nuwe vaardighede te leer.
Veertien gr. 10 Voortrekkers en hul offisier, Estelle D'Emiljo het vanaf Sondag 29 April tot Dinsdag 1 Mei op Riversdal gekamp.
Van die nuwe vaardighede wat hulle geleer het was hoe om met 'n heliograaf te sein en radiospraak. Hulle moes selfs stywe-, krummelpap en roosterkoek maak.
Daar is altyd tyd vir speel, maar hierdie Voortrekkers speel tradisioneel soos beesvelgooi, eiergooi, jukskei, blindemol, skilpadtrek en skilpadresies.
Tydens 'n verfbalspel (paint ball) is veldslae uit die geskiedenis uitgebeeld.
Oplettendheid is getoets terwyl leerders, slegs met behulp van leidrade, 'n middernagtelike roetemars deur die dorp voltooi het.
Met 'n besoek aan die Julius Gordon Afrikana Sentrum was die artikels oor die Anglo Boereoorlog veral insiggewend.
Natuurlik was daar tyd vir kuier, kampvuur, sing, slaap onder die sterre en volmaan, saam laf wees en hope pret.
Chané Fourie vlieg in die lug op tydens die tradisionele beesvelgooispeletjie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'