TUINROETE | KAROO NUUS - Hierdie kunswerk is langs die pad onderweg na Uniondale, skynbaar op privaat grond en menige motoris moes seker al gewonder het wat die doel daarvan is (buiten die wat wel weet).
Suid-Kaap Forum het in die verlede dikwels oor die sogenaamde 'Spook van Uniondale' geskryf, omdat Maria Roux, wat op 12 April 1968 in 'n ongeluk op die Willowmore-pad oorlede is, in Riversdal begrawe is.
Sy en haar verloofde was vanaf Pretoria op pad na haar ouerhuis in Riversdal om reëlings vir hul troue te bespreek.
In 'n stormagtige nag het haar verloofde beheer oor die voertuig verloor en die motor het in 'n sloot beland. Maria is uit die motor geslinger, haar kop het 'n klip getref en sy is op slag dood.
Mense wat op die ongeluk afgekom het, het 'n geneesheer van Uniondale ontbied.
Hy het die jong man behandel en hy is per ambulans na Oudtshoorn geneem.
Daarna is hy na Wynberg militêre hospitaal geneem.
Volgens oorvertelling is Maria se verloofde in 1984 oorlede en is die spookmeisie van Uniondale nie weer gesien nie.
Nou wonder mens - het die persoon wat hierdie kunswerk daar aangebring het dit gedoen om motoriste te herinner aan Maria, of dalk wou die kunstenaar hiermee sê dat sy en haar verloofde wel in die hiernamaals verenig is?
Of dalk het dit 'n heeltemal ander betekenis. Indien u die ware storie weet, kontak my gerus by wilma@groupeditors.co.za
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'