OUDTSHOORN NUUS - Toe hy sy debuutdigbundel einde verlede week die eerste keer in die hand hou, was dit 'n droom wat waar geword het.
Tog maak dié werklikheid hom ook effens bang en senuweeagtig, vertel Hannes Visser, redakteur van Oudtshoorn Courant, oor Die jaar toe pa... wat pas verskyn het. Want nou behoort jare se harde werk en herskryf nie net meer aan hóm nie.
"As jou skryfwerk eers in die openbare oog is, word dit ook die eiendom van lesers en resensente."
Die jaar toe pa... het die pad van 'n gevestigde uitgewer, Naledi, geloop, "en dit beteken kenners gáán hulle daaraan steur. Ek beskou dit as toeganklike digkuns. My missie was om gedigte te skryf wat nie net deur intellektuele reuse gelees word nie; ook deur doodgewone mense. As dit dan al is wat ek regkry, om meer mense na die poësie te lok, het ek my doel bereik."
Die 62 gedigte is losstaande momente in Visser se lewe toe hy so 10 jaar oud was. Saam vorm dit 'n verhaal, hoewel die meeste ook alleen kan staan. Die jaar is 1967. Die plek is 'n buurt in Roodepoort waar hy saam met sy ouers en broer gewoon het.
Terugskouend, as volwassene, besef hy sy huisgesin was grootliks disfunksioneel. "Toe het ek dit nie so gesien nie. Alles wat gebeur het, was maar deel van die lewe." Die digter praat van alkoholisme, geweld, verbale mishandeling en die afbrekende behandeling van huishulpe en ander nie-wittes in 'n tyd toe apartheid geblom het.
Tog slaag Visser daarin om objektief oor dié omstandighede te skryf. "My uitdaging was om met grootmense te praat deur die stem van 'n kind. Die skryfproses was soms baie emosioneel, want as volwassene kyk jy anders na dit wat met jou as kind gebeur het."
Volgens Daniel Hugo, bekende digter, vertaler en radioman wat die redakteur van die bundels was, "is die gedigte veral treffend vanweë die onemosionele trant waarin selfs die gruwelikste gebeure vertel word. Die nugter styl is die noodwendige gevolg van die kind se onbegrip van wat om hom in die grootmenswêreld afspeel. Hierdie botsing van perspektiewe ontlok by die leser ontroering en soms ook 'n glimlag."
Datums vorm die titels van die gedigte en hiervoor moes Visser diep in sy geheue krap. Dit was 'n geskiedkundige jaar, want die eerste hart is oorgeplant. Dit was die jaar ná die moord op Verwoerd. Maar dit was ook 'n waterskeidingsjaar vir Visser. Te midde van sy soms chaotiese grootwordjare was daar 'n gebeurtenis wat hom gehelp het om bo sy omstandighede uit te styg (Maandag 9 Oktober), toe 'n onderwyser hom gekomplimenteer het: 'This boy will go far' was woorde wat hom laat besef het 'n mens is nie die slagoffer van jou omstandighede nie. "Ek het vroeg besef ek is nie afhanklik van alles wat met en óm my gebeur nie. Ek kan myself verwyder van dinge wat seermaak. My gedigte sê ook vir mense ons hoef nie te wees waar ons gebore word nie."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'