RIVERSDAL NUUS - Freddie Adams is dalk as Vaatjie van die dominotafel meer bekend.
Nes jy dink hy ontspan rustig by die huis voor die televisie is hy weer langs die dominotafel of by die rugby- of krieketveld doenig.
Hy is in 1962 in Riversdal gebore en het sy skoolloopbaan aan Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool afgesluit. Na skool het hy by 'n kafee op die dorp gewerk. ''Ek moes skool verlaat want ek moes my moeder help geld verdien,'' vertel hy. Hy werk al die afgelope 35 jaar by Hoërskool Langenhoven.
Hy is sedert 2009 betrokke by die plaaslike dominovereniging en is tans die kassier. Die spel is vir hom 'n passie en sy manier om te ontspan na 'n besige dag. Sy oë vonkel wanneer hy saam met sy medespelers om die dominotafel sit. ''Ek ken al die ou tricks in die boek!'' sê hy opgewonde. Hy is ook by rugby en krieket op die dorp betrokke en kan gereeld as tellinghouer langs die veld gesien word.
Adams is 'n groot man met 'n sagte hart. Hy beskou homself as 'n mense-mens en liefde vir sy gemeenskap lê hom baie na aan die hart: "Die dorp en sy mense moet vorentoe beweeg en meer jong mense moet bo hul omstandighede uitstyg." Hy sê hy help graag mense waar hy kan. Hy is ook 'n man van vele grappies wat nie hou van kwaad rondloop nie.
Freddie en Sheila, sy eggenoot van 35 jaar, besoek gereeld naasbestaandes en gemeenskapslede in die hospitaal. Hoop en liefde is vir hulle baie belangrik.
Hy wil hê jong mense moet besef drankmisbruik en verkeerde vriende kan lewens vernietig. ''Een ding wat die lewe my geleer het is dat niemand op die ou end alleen kan regkom nie. Ons het almal mekaar nodig, op een of ander manier.'' En as hy sy lewe kon oorbegin? Adams sê hy sal alles presies dieselfde wil hê.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'