RIVERSDAL NUUS - Verskeie voorvalle van misdaad is sedert Donderdag 6 Maart aangemeld.
'n Verdagte voertuig - 'n wit VW Jetta - is tussen 03:00 en 04:00 Donderdag in die omgewing van Jireh se fabriek in die industriële gebied opgemerk.
"Dit kan moontlik verband hou met diefstal van diesel van die perseel af," sê konst. Venia Daries, polisiewoordvoerder.
Sy versoek inwoners wat sulke voertuie sien om na die registrasienommer op te let, wat die polisie kan help om die voertuig se eienaar op te spoor.
Donderdagnag het drie mans probeer om 'n vragmotorbestuurder wat by 'n vulstasie langs die N2 oornag het, te beroof.
"Toe die bestuurder wakker word en 'n vuurwapen te voorskyn bring, het hulle laat spaander."
Sy waarsku bestuurders wat in die dorpsgebied oornag - al is dit onwettig - om op hul hoede te wees en die polisie by 028 713 8500 te kontak indien hulle bedreig word.
Omstreeks 21:20 Saterdag 7 Maart is 'n vrou wat saam met 'n vriend in Kwanokuthula gestap het, van haar selfoon beroof terwyl sy besig was om 'n oproep te maak. "'n Man het verbygeloop, die selfoon gegryp en weggehardloop," sê Daries.
Sy waarsku ook veral bejaarde persone om uiters versigtig te wees wanneer hulle by 'n kitsbank geld onttrek.
"'n Groep van drie swart mans, wat soms 'n vrou by hulle het, bied kamstig hulp aan, maar beroof die mense dan van hul Sassa-toelaag."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'