RIVERSDAL NUUS - Die aantal bevestigde gevalle van Covid-19 het Dinsdag 25 Maart op 709 te staan gekom - 155 meer as die vorige dag.
Die meerderheid gevalle kom in Gauteng voor, gevolg deur die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Vrystaat, Mpumalanga, Noordwes, Limpopo, Oos-Kaap en Noord-Kaap.
Tot Dinsdag is 12 815 mense vir die virus getoets. Die meeste van die pasiënte val in die ouderdomsgroep 31 tot 40 jaar, gevolg deur 51 tot 60 jaar, 21 tot 30 jaar en 41 tot 50 jaar.
Streng maatreëls is neergelê om te voorkom dat die hoogs aansteeklike virus versprei. Dit sluit in dat mense nie nader as 1,5 m van mekaar af moet wees nie. Kontak met siek mense moet vermy word. Nies en hoes in 'n sneesdoekie of in jou elmboog om te voorkom dat die druppels deur die lug versprei. Gooi die snesie dadelik in 'n toe asblik. Die belangrikste is om jou hande voortdurend te reinig na jy aan oppervlakke of geld gevat het en om nie aan jou gesig te raak nie.
By die meeste winkels en diensverskaffers waar Suid-Kaap Forum ingeloer het, word daarop aangedring dat die besoekers hul hande moet reinig.
By dokters se spreekkamers moet jy jou hande ontsmet wanneer jy by die wagkamer instap en dit verlaat. Apteek-personeel het gesê hulle het steeds nie gesigsmaskers in voorraad nie, en indien hulle handreiniger inkry, vlieg dit van die rakke af. Die meeste mense koop vitamienaanvullings om hul immuunstelsel op te bou.
By sommige supermarkte wag 'n werker met handreiniger jou in en jy moet jou hande reinig voor jy die winkel betree. Volgens 'n winkeleienaar word al die kassiere se hande en toerusting ook deurlopend gereinig.
By nie een van die supermarkte wat die koerant besoek het, was leë rakke wat op massa-aankope dui nie. Die eienaars en bestuurders is tevrede dat voldoende voorraad afgelewer word om aan klante se behoeftes te voorsien.
Agri SA het gesê die landbousektor werk saam met die regering om te verseker dat noodsaaklike en vars landbouprodukte voorsien word. "Die waardekettings wat die produkte daagliks voorsien, het die nodige voorsorgmaatreëls in plek om werkers te beskerm en om voorraad deurlopend te skuif," het Christo van der Rheede, die organisasie se adjunk-uitvoerende direkteur gesê. "In geval van verdere inperkings sal die oes, prosessering, verspreiding, aflewering en verkope van landbouprodukte en kruideniersware daarvan vrygestel word."
Die feit dat eet- en kuierplekke voor die inperking weeksdae om 18:00 en op Sondae en openbare vakansiedae om 13:00 moes sluit, het darem 'n onbeplande positiewe gevolg gehad. Volgens ao. Alroy Windvogel van Heidelberg-polisie was Vrydagaand die eerste in dekades wat daar nie iemand vir dronkbestuur toegesluit is nie.
Die onderneming versoek jou om jou hande te reinig voor en na jy die kaartmasjien gebruik het.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'