RIVERSDAL NUUS - Riversdallers het Donderdag, 5 Augustus 70 eenhede bloed tydens die Wes-Kaap Bloedskenkdiens kliniek in die Thusong-sentrum geskenk.
Hoewel dit volgens Arlecia November, bemarkingstoesighouer minder as onder normale omstandighede is, is hulle tevrede.
Ronellety Bantom was die spanleier wat toegesien het dat alles sonder haakplek verloop en die Covid-19-protokol gevolg word. As gevolg daarvan kon slegs 'n sekere aantal skenkers in die saal toegelaat word, wat tot gevolg gehad het dat van die skenkers buite hul beurt moes afwag.
"Ons normale teiken is sowat 40 skenkers, maar die Riversdallers is staatmakers en ons ontvang gewoonlik so tussen 60 en 80 eenhede," het Bantom gesê.
Riversdal daag Stilbaai uit om op hulle 70 eenhede te verbeter wanneer die WKBD daarheen gaan op Donderdag, 19 Augustus. Die kliniek sal oudergewoonte in die gemeenskapsaal vanaf 12:00 tot 15:00 gehou word.
Daar is tans 'n groot tekort aan bloed, veral in die O+groep.
Indien jy met die koronavirus gediagnoseer word binne 28 dae na jy bloed geskenk het, moet jy dadelik met die Wes-Kaap Bloedskenkdiens in verbinding tree (021 507 6319, 507 6320 of 507 6329).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'