RIVERSDAL NUUS - Min mense kan hulself indink hoe dit moet wees om glad nie te kan hoor nie. Selfs om jou ore toe te druk, is nie naastenby 'n ware weergawe daarvan nie.
Niklaas Jansen, of Klaas soos almal hom ken, het sy gehoor in sy regteroor op negejarige ouderdom verloor. Op 19-jarige ouderdom kry hy pampoentjies, wat sy gehoor in sy linkeroor aantas en geen gehoorapparaat kon sy gehoor verbeter nie.
"My wêreld was baie stil. Ek kon vir baie jare net lippetaal lees, iets wat ek baie goed bemeester het," vertel hy. "Tydens 'n besoek aan 'n arbeidsterapeut vir my rugprobleem, het sy my gehoorverlies waargeneem en my na Gill Kerr verwys."
'n Suksesvolle kogleêre inplanting deur prof. Loock en sy span is op 28 Mei by Tygerberg-hospitaal gedoen en op 25 Junie was hy baie bly om na jare weer die geklingel van sleutels en geraas van papier te hoor. Hierna was dit 'n lang pad met baie oefeninge.
"My waarneming van klank het baie verbeter en ek kan weer goed hoor en kommunikeer. Ek kan op my fiets deur die dorp ry en hoef nie meer so baie rond te kyk nie, want ek kan die motors hoor aankom. My gehoor raak elke dag beter.
Klaas het op 23 November sy 50ste verjaarsdag gevier - en om weer te kan hoor is een van die beste geskenke wat hy nog in sy lewe ontvang het.
"Dit voel baie goed om na 31 jaar weer te kan hoor en ek sien uit daarna om eendag normaal tussen baie mense te kan hoor. Vandat ek weer kan hoor, verstaan ek mense ook nou baie beter."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'