Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - “Liefde is grootmoedig en verdraagsaam en bruis met wedersydse respek vir mekaar. Liefde is nie halfhartig nie; dit is volkome!” meen Des en Des, soos almal wat hulle ken, hulle noem.
Hy is Desmond Julies (62), ‘n gebore Riversdaller en nou ‘n afgetrede kaptein in die polisiediens. Sy is Deseree Jansen, 14 jaar jonger as hy en ‘n gebore en getoë Oudtshoorniet.
Albei is sportliefhebbers en hulle was inderdaad self in hul jonger dae aktiewe sportpresteerders.
Terwyl Desmond misdadigers landwyd laat boet het en in 2012 na sy geboortedorp teruggekeer het, het Deseree onder meer by die departement van sport en by die SWD-rugby-unie gewerk voor sy in 2017 ‘n pos as skakelbeampte by die burgemeesterskantoor op Riversdal aanvaar het.
Albei ken seerkry
Dié paartjie, wat albei twee kinders uit vorige huwelike het, was maar skrikkerig vir die liefde, want hulle ken die seer en teleurstelling van ? verbrokkelde huwelik.
Toe ontmoet hulle mekaar, drie jaar gelede. Deseree het ‘n woonstel in ‘n hotel gehuur en die gebruik was om die sleutel smiddae ná werk van die sleutelpaneel in die kroeg af te haal. Desmond het die sport op televisie in die kuierruimte gevolg.
Deseree onthou.”Toe ek die sleutel afhaal, toe sien ek die sexy man wat tennis kyk. Ek het beleefd gegroet en stilweg gedink: ‘Mens, maar dis 'n lekker Oom...’ Ek sou nooit in my drome kon dink dat ek later só lief vir hom sou word nie!”
Desmond, altyd stylvol geklee en fiksheidsbewus, onthou Deseree het sy oog so tussen die potspelspelery en tenniskykery getref. “Sy was netjies versorg en haar spontane
lag en vriendelikheid het my aandag onmiddellik getrek, maar ek het geensins gedink dat daar ooit ‘n sprankel tussen ons sou vlamvat nie!”
Die eerste afspraak
Hulle het mettertyd oor ditjies en datjies gesels en saam sport gekyk, onder meer die Wêreldbeker van 2019 - en Suid-Afrika se oorwinning saam gevier.
Kort daarna kry Deseree toe deur die burgemeesterskantoor kaartjies vir ‘n biefstuk-braai ten bate van‘n fondsinsameling vir ‘n laerskool. Sy nooi twee vriendinne, maar albei het ander reëlings gehad. Die een stel voor Deseree vra Desmond om haar te vergesel.
Sy besef toe sy het nie eens sy telefoonnommer nie! Maar sy kry dit toe by ‘n vriendin en nooi hom skamerig. Desmond het die uitnodiging aanvaar. Hy onthou dit was ‘n heerlike, vriendskaplike aand. “Ons was egter steeds net platoniese vriende.”
Maar, toe in November verlede jaar was dit Desmond se beurt om Deseree te vra om hom na geselligheid te vergesel; sy niggie se 21ste verjaardagpartytjie. “En daardie aand het ek besef ek moet dié meisie myne maak!”
Die liefde begin blom
Hoewel hulle albei al jare lank alleenlopers was, het hulle uiteindelik besef hulle het geheg aan mekaar geraak en in die feestyd verlede jaar kon hulle nie meer hulself óf ander mense flous nie: hulle is lief vir mekaar!
En toe, in Januarie vanjaar, net vóór die Covid 19-aandklokreël inskop en Desmond ná ‘n kuier moes huis toe gaan, vra hy Deseree: “Sal jy my goose wees?”
Haar antwoord was: “Met graagte; met my hele wese!”
En die volgende dag het sy almal op sosiale media en haar kollegas en vriende in die dorp ingelig: “Ek is nou Cappi se meisie!” Dis die naam waaraan die meeste mense Desmond ken; afgelei van sy voormalige posisie as kaptein.
Hulle sê hulle is eerstens regtig beste vriende en kan spontaan en eerlik by mekaar wees. Hulle is eenders en tóg ook anders. Albei is versot op buitemuurse aktiwiteite, leef volgens Christelike beginsel en glo aan openhartige, eerlike, opregte gesprekvoering. Hulle erken, hoewel hulle baie met mekaar gemeen het, leer hulle mekaar elke dag beter ken en probeer om mekaar op verskeie vlakke aan te vul.
Kyk 'n video hieronder.
Niemand is volmaak nie
En, ja: daar is dinge wat soms krapperigheid veroorsaak.
“Ek raak nogal vies as ek by haar kuier en sy trek haar pantoffels aan en sy loop slof-slof van hoek tot kant. Dan vertel sy my dit is nie sy wat slof-slof nie; dis haar ‘slippers’!” bieg Desmond en knipoog goedig.
“Hy drink warm koffie slurp-slurp en as ek hom maan om reg te drink en hy belowe hy sal dit nie weer doen nie, slurp hy volgende keer selfs erger!” verklik Deseree met ‘n kamstige terugkap.
En nee: daar gaan nie ‘n verlowing wees nie! “Ek kan nie gelaybye word nie,” sê Deseree.
“Dit is tydmors op ons ouderdom, maar daar gaan gewis ‘n troue wees!” verseker Desmond.
Glo by die see...
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'