Update
RIVERSDAL NUUS - Die dorp, en veral die breë onderwysgemeenskap in Hessequa, is swaar getref deur die skielike dood van Delycia Witbooi, in lewe skoolhoof van Panorama Primêr.
Delycia is Saterdagaand in die Mediclinic George ná 'n beroerte oorlede.
Sy was 55 en sou op 23 September vanjaar haar 56ste verjaarsdag gevier het.
Hier was 'n geliefde, fyn beskaafde mens wat in 'n skoolloopbaan van 32 jaar, die laaste ses maande as hoof by Panorama, haar openbare taak as opvoeder met kalmte, waardigheid en volslae toewyding gedien het.
In onderwyskringe is sy algemeen erken as 'n krag van die eerste rang: 'n organiseerder en leier van mense, 'n kreatiewe skepper, koersvas, stewig, betroubaar, 'n sieraad vir haar skool en sy leerders.
Diegene in haar binnekringe het haar beskryf as opreg, iemand wat volkome toegewyd was aan haar opvoedingstaak.
Haar eggenoot van 25 jaar, Patrick Witbooi, skoolhoof by Gerrit du Plessis Sekondêr, het aan Suid-Kaap Forum gesê Delycia was meer as net bloot sy vrou en ma van hul enigste seun, Dean. "Sy was my beste maat die afgelope bykans 40 jaar wat ons mekaar geken het. Sy het ons en haar kleinseun, Luca, verafgod. Sy was baie beskermend teenoor ons en het altyd met trots van ons gepraat. Haar rolle as ma en opvoeder het sy met passie uitgeleef."
Delycia het veral groot aansien geniet in netbalkringe in die SWD en die Wes-Kaap waar sy in verskeie bestuursposisies gedien het.
Op die terrein van skool- en kerkkore het sy ook haar stempel deeglik afgedruk. Haar skoolkoor het op streek, plaaslike en nasionale vlak verskeie kompetisies gewen.
Sy het self aan die Eisteddfod deelgeneem en goed presteer.
Sy sal ook onthou word vir haar bydraes tot drama en as die persoon wat "Stoepstories" na Riversdal gebring het.
Delycia was die ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) se Riversdal-tak. Vir haar prestasies as opvoeder het sy deurgedring na die eindronde van die Wes-Kaapse onderwystoekennings.
Tydens 'n kooroefening by Panorama Primêr Maandagmiddag, het 73 oud-koorlede by die skool opgedaag om hulde aan Delycia te bring. Dit onderstreep weereens haar gewildheid en die respek wat sy by mense afgedwing het.
Nou gaan sy in 'n engelekoor sing. Haar stem op aarde is vir eers stil.
Die begrafnis is op Saterdag 9 Julie om 10:00 uit die VGK in Riversdal.
Vorige artikel: Geliefde skoolhoof oorlede
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'