HEIDELBERG NUUS - Die personeel van Grootvadersbosch-natuurreservaat het vir die derde keer sedert hulle in 2015 besluit het om 'n bydrae aan behoeftige leerders te maak, weer hul harte en beursies oopgemaak.
Die samaritane, onder leiding van die bestuurder, Ian Allen en sy vrou, Rose, het hierdie keer na 32 behoeftige leerders van De Waalville Primêr uitgereik, wat die winter met skoene kan aandurf.
Die groep het besluit om vanjaar meer leerders as in 2015 (15) en 2017 (20) te betrek.
Daar is ook besluit dat dit 'n jaarlikse projek sal wees, waar hulle die vordering van die leerders sal volg om sodoende 'hul leerders' te motiveer om hul beste te doen.
Volgens Rose kry elke leerder een paar skoene, kouse, 'n hemp, skoenpolitoer, 'n borsel en 'n potloodstel. "Dit is jou belegging in die leerder wat jy gekies het en dit sal beslis rente verdien," het sy die werkers gemotiveer.
Ian het na Barak Obama se 'Yes we can' verwys deur hulle te beywer met "Ja, ons kan, ons het en ons sal dit weer doen."
Tydens sy kort toespraak het hy sy kollegas bedank vir hul omgee. Hy het ook vir Clinton Williams, wat sy laaste dag by die span deurgebring het voor sy oorplasing na Cederberg-reservaat uitgesonder, omdat Williams sy onderneming gegee het om steeds jaarliks sy bydrae aan die projek te gee.
Pietie Conradie, adjunkhoof het die personeel bedank vir hul bydrae en gesê dat hoewel dit blyk asof hulle as gewone werkers dit self nie breed het nie, hulle wel vir ander omgee om 'n verskil te maak.
Shalmay Meyers, onderwyser, het ook die werkers bedank en die leerders gemotiveer om hul beste te doen. "Julle moet sommer die mense verras en aanbied om by hul huise iets te doen, al is dit net die vullis uitsit of werf skoonmaak. Bewys jul waardering teenoor dié omgeemense."
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'