Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - Vir Danie Benson (63) en sy vrou Louisa Benson (62) van Riversdal, het 1 September 'n groot uitdaging ingehou jaar toe Danie besluit het om 1 400 km na Newcastle op sy 1985 fiets aan te durf.
Volgens Danie het hy nie regtig geoefen vir die lang rit nie. Die enigste doel in daardie stadium was om die 1ste September op sy fiets te klim en te ry. Hy glo deur vir jouself 'n doelwit te stel, kan jy enige iets doen solank jy gefokus bly.
Danie is welbekend onder sy medefietsryers juis omdat hy gemaklik in sy veldskoene en gewone klere op sy ou fiets die kranige fietsryers lag-lag verbysteek.
Die Karoo-to-Coast het hy 'n paar jaar gelede in vier en 'n half uur gery. "Ek verkies my ou fiets omdat hy gemaklik sit. Daar is amper geen stremming op my rug nie."
Volgens Danie ry hy nog al die jare fiets. In 1982 het hy begin werk waar hy elke dag 10 km werk toe en 10 km terug huis toe met sy fiets gery het. Selfs vandag nog maak hy seker dat hy elke dag sy fiets uithaal en ry, nie net omdat hy voel dat brandstof duur is nie, maar ook om sy oefening vir die dag in te kry. "Vir my is dit 'n leefwyse om aan die gang te bly en ek hou van uitdagings."
Iets wat sy pa vir hom en sy drie broers van kindsbeen af geleer het was om van punt A tot B te draf en sodoende sommer die nodige oefening vir die dag in te kry. Dis ook vir hom en sy broers lekker om mekaar te motiveer deur uitdagings te stel. "Gesonde kompetisie kan geen mens skade doen nie, dit moet jou motiveer om jou beste te lewer."
FOTOGALERY: Van Riversdal tot Newcastle op 'n fiets
Vinnige pitstop om waterbottels vol te maak.
In die weermag was hy opgeroep na Pretoria waar hy valskermbataljon keuring en toetse gedoen het, daarna is hy Bloemfontein toe om 'n valskermsoldaat te word. In hierdie tyd het hy harde opleiding gekry wat sy fiksheid grootliks verbeter en hom topfiks gemaak het. Hy vertel dat hy nou nog gemaklik 'n halfuur kan hardloop sonder om enigsins moeg te raak.
Vir sy vrou Louisa, was die grootste uitdaging om die bakkie alleen tot in Newcastle te bestuur waar haar pa woonagtig is, iets wat sy nog nooit voorheen gedoen het nie, alhoewel Danie altyd naby was met sy fiets.
Louisa het met die bakkie en sleepwa so 15 km vooruitgery en vir hom gewag sodat hy elke nou en dan iets kon eet en drink of sy waterbottels kon volmaak om weer verder te gaan.
Die afstand vanaf Riversdal na Newcastle is 1 400 km waarvan Danie 1 260 km per fiets afgelê het. Vanaf Wepener was die pad baie sleg met slaggate en mense het om aangeraai om nie per fiets die pad te ry nie. Dit is die enigste rede hoekom hy nie die laaste 140 km per fiets gery het nie.
Verder was daar nie regtig hindernisse nie, die enigste probleem was sy fiets se saal wat nie wou stel nie, want hy was vasgeroes. Die nuwe saal wat hy opgesit het was bietjie hoër wat beteken dat hy die heelpad op sy tone moes ry en dit het krampe veroorsaak.
Hy het ook geen probleme met pap wiele gehad nie alhoewel die trap van die ou fiets begin droog raak het, maar hy het sommer olie wat hy langs die pad opgetel het, daarop gegooi.
Saans het hulle op 'n matras in die bakkie geslaap aangesien Danie elke dag sover as moontlik wou ry. Daarom het hulle nie vooruit plek bespreek nie want hulle het nooit geweet waar hulle presies gaan eindig nie.
So kuier-kuier het sy vrou selfs wasgoed langs die pad gewas en gesorg vir lekker eetgoed sodat Danie genoeg 'petrol' het om voort te gaan. "Ons het elke oggend rustig wakker geword en dan die pad gevat.
"Een oggend toe ons wegtrek by Burgersdorp het die bakkie -7 grade gewys. Dit was bitter koud" vertel Louisa.
Louisa het hulle vordering op Danie se WhatsApp valskermgroep gedeel en dié groep het besluit dat hulle nie verder in die bakkie sal slaap nie. Vir die laaste drie aande het hulle elke aand slaapplek gehad soos hulle gevorder het.
Tussen Zastron en Wepener het Danie die Here gevra dat hulle daardie aand, waar hulle ook al mag eindig 'n lekker plekkie sal kry waar hulle warm kan slaap. Daardie aand het hulle warm slaapplek en 'n ete gekry as gevolg van die fietsryhemp met die valskermembleem wat een van sy ou luitenante vir hom geborg het.
Die fiets wat Danie in 1985 gekoop het vir R270. Dit is ook die fiets waarmee hy die meeste kilometers gery het.
Danie vertel dat Lootsbergpas opdraande met die wind van voor 'n lekker uitdaging was. Hy glo nie daaraan om sy fiets te stoot nie so daardie laaste paar kilometers het hy net uitgehou en aangehou.
"My vinnigste spoed was op die laaste skof toe ek so tussen 70 en 90 km per uur gery het. Die res van my reis het ek gemaklik gery met geen inspanning nie, dis net 'n geval van opklim en ry" vertel hy laggend.
Vir Danie en sy vrou was dit 'n belewenis om die natuurskoon in te neem en al die kreature in hulle glorie te sien, van springbokke en kudu's tot dassies wat op garingbome rond klouter.
Skofte vanaf Riversdal na Newcastle (1 tot 8 September) was soos volg.
- 162 km
- 147 km
- 175 km
- 96 km
- 164 km
- 139 km
- 63 km
- 220 km
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’