HEIDELBERG NUUS - 'n Twee-en-twintigjarige jongman van Heidelberg is Vrydag, 30 April op heterdaad met 'n plastieksak vol dagga betrap terwyl die plaaslike polisie die N2 patrolleer het.
Lede van skof B het ongeveer 14:00 'n taxi opgemerk wat 'n plastieksak langs die N2 by die skrootwerf naby Kairos Senior Sekondêre skool afgelaai en weggejaag het. Die verdagte het die sak opgetel en toe hy die polisie opmerk, weggehardloop.
Die polisielede, onder leiding van sers Gerhard Swart het hom agternagesit waar hy tussen die bosse verdwyn het.
Hulle het hom ingehardloop en in hegtenis geneem. Die sak, wat hy steeds vasgeklou het, het nagenoeg 30 kleiner sakkies dagga bevat wat gesamentlik 6,065 kg geweeg het.
Die verdagte is vrygelaat en gewaarsku om Dinsdag, 11 Mei weer in die hof te verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'