TUINROETE | KAROO NUUS - Hy het hoop vir die toekoms, maar daar is sekere dinge wat sal moet verander. Dit is die boodskap van dr. Franklin Sonn, 'n voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Amerika en bekende sakeleier.
Sonn het in 'n openhartige gesprek met George Herald sy gedagtes gedeel oor die onlangse voorvalle van geweld en plundery wat in Gauteng en KwaZulu-Natal voorgekom het. Die gebeure skep vraagtekens oor die land se toekoms.
Sonn, wat deesdae in George woon, was een van die groot steunpilare in die stryd teen apartheid.
Gee Cyril 'n kans
Hy het benadruk dat pres. Cyril Ramaphosa 'n kans gegee moet word. Daar is niemand anders in die stadium wat dit kan doen soos hy nie. Van die kritiek wat teen Ramaphosa uitgespreek word, is onbillik en hy moet beoordeel word aan die hand van sy uitvoering van die grondwet.
Volgens hom kom Ramaphosa die grondwet na. Ramaphosa was self direk betrokke by die skryf van die nuwe grondwet wat in 1996 aanvaar is.
"Die president moet beoordeel word aan die hand van die beloftes en die grondslag van die grondwet waarvan hy die beskermheer is."
Hy het gesê Ramaphosa is konsekwent. Wat hy belowe, gee hy.
Sonn was verbaas oor die onlangse gebeure en het dit nie verwag nie. Maar, daar is natuurlik 'n aanloop.
Van eerlik tot verrot
Volgens hom het die nuwe regering van die eerlike veronderstelling uitgegaan om vir almal 'n beter lewe tot stand te bring. Positiewe dinge is gedoen, maar dit was te min. Die meerderheid mense is nie altyd saamgeneem nie. By dit het hebsug, gulsigheid en losbandigheid ingetree.
Die hoë morele grondslag wat aanvanklik gevestig is, het begin gly. Die groot massa mense is half tevrede gestel.
Hy glo daar moet grootskaalse suiwering en basiese begrip vir vereistes van goeie regering tot stand kom en die grondwet moet eerbiedig word. Oudpresident Jacob Zuma is Ramaphosa se grootste toets.
Almal wat destyds aan die bevrydingstryd deelgeneem het, het dit met edel motiewe gedoen, maar dinge het verrot as gevolg van onbeholpe regering en 'n gebrek aan 'n etiese platform. "Die meeste Suid-Afrikaners het 'n knaende kommer of die verrotting nie moontlik die liggaam van die volk totaal sal oorval nie. En inderdaad of ons president die ruggraat en die wil het om dit te kenter."
Leer by DA
Sonn het gesê op rekord regeer die DA-streke beter as die ANC. "Die ANC moet by die DA gaan leer om te regeer. Premier Alan Winde moet die land deurreis om plaaslike regerings te wys hoe om te regeer. Hy moet Trevor Manuel, Edward Kieswetter en Themba Maseko saamneem.
"Ons het die punt bereik dat die ANC homself eerlik moet afvra of hy hoegenaamd sy mooi-klinkende etiese beginsels nakom en of hy werklik weet hoe om te regeer.
"Ons ANC-volgelinge moet vir comrade Cyril sê ons verwag 'n skoon goed-regeerde land van hom."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'