HESSEQUA NUUS - Om 'n polisielid in die tyd van Covid-19 te wees, is 'n groot uitdaging.
Suid-Kaap Forum het met 'n paar wetstoepassers gesels.
Die eerste week van die inperking was vir mense lekker om tuis te wees en min van hulle is op straat gesien. Die tweede week het dit begin verander - al meer mense het dit op straat gewaag. Leerders kon darem ook iets te ete by die skole gaan haal.
Hoe gaan die volgende drie weke verloop? Die grootste bekommernis is die huishoudings wat nie 'n inkomste of iets te ete het nie. Mense begin op die strate ronddwaal. Hulle word beboet, maar dit vererger net die situasie. Dis die wetstoepassers se plig om die landswette - ook dié wat weens die pandemie op hulle afgedwing word - te gehoorsaam. "Ek dink nie die samelewing was gereed vir die uitdaging nie," sê een lid. "'n Finansiële krisis staar baie van ons mense in die gesig." Na die eerste 14 dae is die lede van die nooddienste uitgeput en hul moraal is laag. "Die werk is uitputtend, almal se stresvlakke is hoër en ons gesinne ly daaronder. Die inwoners begin desperaat raak om 'n stukkie brood op die tafel te kry.
"Maar ons het al in die verlede krisisse hanteer - ons sal deur die wette te gehoorsaam en ons geloof in ons Skepper ook hierdie een oorkom."
'Deurskynende bedreiging'
Nog 'n lid meen die interpretasie van die nuwe reëls was ingewikkeld. Dit klink eenvoudig genoeg: Diegene wat nie 'n noodsaaklike diens lewer nie, moet tuis bly. Maar hoe verander jy 'n bejaarde oom of tannie, wat al hoeveel jare lank soggens langs die rivier gaan sit om die son te sien opkom, se sienswyse?
"Die eerste 10 dae het ek die gevoel gekry inwoners meen die nakoming van die inperkingsreëls is opsioneel. Ek het 34 dagvaardings van R400 elk vir die verontagsaming van die reël uitgereik," sê hy. "Die taak is anders as gewone polisiewerk - die doel met dit wat ons nou doen is om die ernstige boodskap uit te dra dat ons teen 'n 'deurskynende' bedreiging veg en dat elke individu 'n rol in die voorkoming van besmetting en verspreiding van die virus moet speel. Dit is meer 'n bewusmakingsveldtog, nie met die doel om paniek te saai nie, maar om algehele higiëne te bevorder."
Hy glo ook die verbod op drankverkope maak die taak makliker omdat minder voorvalle van huishoudelike geweld voorkom. Hy ondersteun die president se besluit om die inkortingstydperk te verleng ten volle. Die onmiddellike invloed mag dalk talle mense raak, maar die algehele impak van die besluit gaan in die toekoms wêreldwyd miljoene lewens red.
"As polisielid in die voorste linie van die geveg teen die deurskynende bedreiging is ek oortuig van en het ek vertroue dat ons saam hierdie pandemie sal oorkom. My boodskap is: Gee gehoor aan die regulasies en beskerm nie net jouself nie, maar ook ander."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'