STILBAAI NUUS - Marianne Collen, ouer van Raymond Collen wat 'n inwoner van Sunfield tehuis in Wellington is, het onlangs 'n bederfoggend ten bate van die tehuis aangebied.
Dié tehuis is toegerus en vir volwasse gestremdes geskik.
Gaste het 'n tapasete by Palinggatsaal geniet. Liesel Kasselman wat die Collen's goed ken het gehelp om die funksie te reël.
"Die Collen-gesin het die bederfoggend gereël om geld vir die tehuis in te samel. Hulle wou dit doen om dankie te sê vir alles wat hulle vir Raymond doen en beteken.
'n Paar van Stilbaai se inwoners se volwasse gestremde kinders is daar woonagtig. Sunfield bied absolute gerusstelling vir ouers, veral soos hulle ouer word en weet iemand sal na hul kind kan omsien," het Kasselman gesê.
Agt plaaslike besighede het die oggend moontlik gemaak. Die tehuis se werkswinkel bestuurder het vertel van hoe volwasse gestremdes in die gemeenskap funksioneer. Elsa Cronjé van Take a Leap Coaching was die spreker vir die oggend.
Gerhardt van Aardt, maatskaplike werker en Cherryl Pienaar, suster van Sunfield, het die bederfoggend meegemaak.
Van links is Liesel Kasselman, Gerhardt van Aardt, Cherryl Pienaar, Marianne Collen en Elsa Cronjé. Foto: San-Marié Cronjé
Chris en Lynne Bennett is die ouers van 'n jong meisie met Downsindroom. Hulle droom was om 'n tuiste vir hul dogter en ander intellektueel gestremde jong volwassenes in die Wes-Kaap te skep. Saam met 'n aantal ander ouers het hulle probeer om 'n geskikte plek 'n uur se ry vanaf Kaapstad te identifiseer.
Wellington is as die perfekte plek geïdentifiseer. Hul droom het werklikheid geword toe hulle Sunfield Wellington gestig het.
Die deure is amptelik in Januarie 1991, met slegs sewe inwoners geopen. Vandag bied Sunfield 'n liefdevolle en versorgingsomgewing vir 96 inwoners en 10 dagsorg individue van 18 tot ouer as 70.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'