Update
ALBERTINIA NUUS - Die ATKV het Marietjie Coetzee onlangs vereer met ’n Woordveertjie vir haar uitsonderlike bydrae tot die literêre landskap en Afrikaanse uitgewersbedryf die afgelope 35 jaar.
Die liefde vir stories loop sterk in Coetzee se familie. Haar ma, Emily, het 49 boeke geskryf, onder andere jeugverhale, soos die gewilde Ouplaas-reeks en haar broer, wyle Pieter Pieterse is die legendariese storieverteller, TV-aanbieder, draaiboekskrywer en skrywer van 33 boeke waarvan meeste in Engels - en een in Frans - vertaal is. Coetzee vertel hoe lekker dit was om as dogtertjie, elmboë op die kombuistafel na al die stories te luister.
Die bietjie meer as ’n dekade in die onderwys was van die kosbaarste tye in haar lewe, vertel sy. Baie van haar oudmatrikulante hou steeds kontak.
’n Verdere hoogtepunt was die stigting van die uitgewery HAUM-Literêr in 1984 waar sy bevoorreg was om aan die manuskripte van onder meer Bartho Smit, Etienne Le Roux, Marlene van Niekerk, Anna M. Louw, TT Cloete en Reza de Wet te werk.
In 1994 aanvaar sy ’n uitgewersaanbod van Human & Rousseau (H&R) en sit haar liefde vir die letterkunde voort. ‘Liefde-in-aksie’ noem sy die wisselwerking tussen haar en haar skrywers tydens die geboorteproses van hul boeke. Haar hoogste vervulling ervaar sy wanneer ’n manuskrip uiteindelik gereed is vir publikasie en wanneer dit tot die eie, hoogste potensiaal ontwikkel is.
In 1998 begin Coetzee ’n opvoedkundige uitgewersfiliaal, Best Books vir Human & Rousseau en behaal die uitgewery die grootste wins in sy bestaan.
Mees suksesvolle boeke waaraan sy deel gehad het, is Die kind (Jan van Tonder), bekroon met die ATKV-prys sowel as die FAK-prys in 1990. Dit geniet steeds wye voorskrywing in skole; Ons is nie almal so nie (Jeanne Goosen), wenner van die CNA-prys, Rapportprys, asook die M-Net-prys in 1991; Vrystaat-trilogie en Trits (Reza de Wet), bekroon met onder andere die Hertzog-prys vir drama in 1994; Drie susters twee (Reza de Wet), bekroon met onder andere ’n tweede Hertzog-prys vir drama in 1997. In 2003 ontvang Coetzee die Nasboek Koos Human-prys vir Innovasie.
Tydens die oorhandiging van haar Woordveertjie sê die ATKV die volgende: “Marietjie Coetzee het die groot besluite in haar lewe soms intuïtief geneem. Een daarvan was die groot sprong van HAUM-Literêr na Human & Rousseau (H&R) se opvoedkundige uitgee-arm, Best Books, ’n sprong waarvan die hele uitgewersbedryf kennis geneem het. Haar eerste titel, Bladsak vir seniors het ’n revolusionêre benadering tot die verskaffing van materiaal aan skoliere gebring - wat vandag wyd nagevolg word. Haar vlyt op dié terrein het meegebring dat H&R in 1998 sy grootste wins ooit kon behaal. Coetzee se innoverende, positiewe benadering om nie net vir skoliere kennis te bring nie, maar ook om onderwysers te bemagtig met kundige ondersteuning, het verder die rigting vir die toekoms aangedui. Daardeur het sy diep spore getrap, nie net in die Suid-Afrikaanse uitgewerswese nie, maar ook in die onderwys. As uitgewer het sy die hoogste standaarde van taal- en teksversorging gehandhaaf. Vir haar skrywers was sy ’n vriend, ’n mentor en ook ’n geestelike toevlug. Daar is maar net een Marietjie Coetzee.”
Die kampioenboom op Marietjie Coetzee se plaas.
Vir Coetzee is Voëlroepersfontein ’n retreat in die wyer sin van die woord, met die buitengewone vredigheid wat mense aangryp; die baie bome, fonteine, tuine, die samehorige voëls en die goedige, mak hoenders.
Daar is nie nou net een van Suid-Afrika se kampioenbome, die Fluisterboom op die perseel van Voëlroepersfontein Gastehuis & Skrywersretreat nie, maar ook ‘n Woordveertjie van die ATKV, ’n moderne voorlopermaatskappy wat op ’n volhoubare wyse sosiale en ekonomiese vooruitgang kweek en sodoende verseker dat die Afrikaanse lewende erfenis uitgebou en bewaar word, pronk in die huis van dié veelsydige persoon.
Skrywer Jan van Tonder het hier aan sy roman, ‘Die Verevrou’, wat vroeg in 2019 verskyn gewerk. So ook prof. Heilna du Plooy, akademikus, digter en romansier, terwyl sy navorsing gedoen het vir haar biografie oor Elize Botha, Gespreksgenoot.
Digter Benita Hartman het al op Voëlroepersfontein oorgebly en op 5 November maak sy vir ’n paar dae weer so. Die kunstenaar en skrywer Lien Botha het ook al kom groet en ’n boekklub van die Kaap beplan ’n besoek vroeg in 2019.
Coetzee vertel dat sy meestal besig is om boerin te wees. Die onderhoud en bestuur van Voëlroepersfontein vereis dit. En dis vertroud, lekker. “Maar as ek met ’n vryskut-manuskrip agter my lessenaar inskuif, skik my lyf haar na die bekende voeë van my lessenaarstoel, reik my hand na ’n potlood en begin die avontuur - om die onbekende teks voor my vas te pen, die engel uit die klip te haal. En dan weet ek hoe baie ek dít mis.”
Haar raad aan voornemende skrywers? “Die grootste en belangrikste gebod in die skryfbedryf is dat die skrywer ’n toegewyde leser moet wees.”
Lees 'n vorige artikel: Coetzee kry veertjie in die hoed
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'