Update
STILBAAI NUUS - In 2016 het besigheids-vennote Adolf en Johannie van Stilbaai Kelders besluit dat een Kersfees in 'n jaar nie genoeg is nie en so is Christmas in July gebore.
Hulle wou natuurlik ook sakeondernemings en toerisme in die stil wintermaande stimuleer en Kersfees is mos vir oud en jonk.
Ongelukkig het die pandemie dit in 2020 en 2021 onmoontlik gemaak om Christmas in July te vier, maar verlede jaar was dit met mening terug en almal was dit eens dat hierdie inisiatief so moet groei dat dit naderhand die hele dorp betrek.
Die beplanning is volstoom aan die gang om van 10 tot 15 Julie Christmas in July te hê wat opbou na die hoogtepunt - die nagmark in Voortrekkerstraat.
Voortrekkerstraat gaan Vrydagaand omskep word in 'n towerland met feesliggies, sneeu en selfs Kersvader gaan 'n draai kom maak.
Kersvader by die nagmark.
Die talle stalletjies se tafels gaan kreun onder die eetgoed en snuisterye en deelnemende winkels in Voortrekkerstraat gaan hulle winkelure tydens die nagmark verleng.
In die opbou vanaf Maandag 10 Julie gaan daar talle aktiwiteite plaasvind en voornemende feesgangers sal voortdurend op sosiale media rakende die program ingelig word.
Alle sakelui en inwoners word ook uitgedaag om hulle besighede en huise soos in Kerstyd te versier. Hulle kan dan foto's op die Christmas in July Facebook-blad plaas. Inwoners sal die geleentheid hê om te stem vir die beste versiering en daar is 'n prys op die spel.
Sneeu is 'n rariteit in Stilbaai en sommige sal sê dit is onmoontlik, maar kom beleef dit self Vrydagaand, 14 Julie, in Voortrekkerstraat.
Sneeu in Stilbaai, nogal in Juliemaand.
Die winkel is pragtrig versier.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'