Update
STILBAAI NUUS - Inwoners en besoekers het vanaf 11 tot 16 Julie Christmas in July met 'n verskeidenheid aktiwiteite gevier.
Daar was 'n port- en kaasproe by Kasselshoop, Piet Paling het Kersfees by die toerismeburo gevier en daar was 'n nagveldwedloop by Lapskuit.
Die strand is ook skoongemaak en alles het opgewerk na die hoogtepunt, Vrydagaand se nagmark in Voortrekkerstraat.
Dié mark het verskeie kosstalletjies ingesluit en daar was te kus en te keur by die talle stalletjies met snuisterye en allerhande snaakse goed.
Hansie Kruger van Albertinia het die verhoog syne gemaak en die hele aand met die een pragtige liedjie na die ander die mense in die regte feesstemming gehou.
Van 17:00 af het die mense begin rondsnuffel en kort voor lank was daar nie meer plek vir 'n muis tussen die stalletjies nie. Selfs Kersvader moes sy takbokke by die huis los en met 'n gemotoriseerde slee opdaag.
Corné van Wyk en Michelle Smit geniet hulself by Stilbaai se Christmas in July.
Dit het die kinders glad nie gepla nie en hulle het behoorlik op hom toegesak. Gelukkig het hy 'n groot sak lekkers by hom gehad en natuurlik baie geduld, veral toe die sneeu begin val.
Dit was baie duidelik dat die inwoners en vakansiegangers uitgehonger was vir hierdie gewilde geleentheid, wat ook maar onder die grendeltyd deurgeloop het en in 2019 laas plaasgevind het.
Johannie Vermeulen en Adolf Botes kan hulself op die skouer klop, want hierdie was weereens 'n reusesukses.
Adolf het gesê dat van die mense wat hierdie jaar nie stalletjies gehad het nie, reeds vir hom gesê het dat hulle volgende jaar daar sal wees.
Volgens hom was die opkoms besonder goed en dit het hulle wildste verwagtinge oortref.
Die jong mannetjie geniet die kersliggies.
Toe die sneeu begin val het die kinders skielik ontdooi. Foto's: Johan Victor
Vorige artikel: Christmas in July in Stilbaai
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'