HEIDELBERG NUUS - Die Overberg-distrik van die Christen-gemeente het Sondag 8 Oktober hul jaarlikse Sondagskool Kinderdag in die stadsaal op die dorp gevier.
Dit is deur leerders, onderwysers, familie en vriende vanaf Bredasdorp, Swellendam, Suurbraak, Heidelberg, Slangrivier en Riversdal bygewoon.
Die spoggeleentheid word elke jaar op verskillende dorpe aangebied en bied die leerders kans om hul besondere talente ten toon te stel.
Die verwelkoming is deur sr. Sally Lotz van Slangrivier behartig, terwyl past. Henry Matthysen, distriksvoorsitter 'n paar woorde van bemoediging gespreek het.
Buiten die verskeie toneelopvoerings, het die leerders ook koorsang gelewer en gedigte voorgelees.
Die onderwysers en dosente het ook 'n paar sangitems gelewer.
Hulle is deur ouderling Julian Matthysen aan die aanwesiges voorgestel.
Sertifikate van verdienstelikheid en waardering is aan verskeie rolspelers oorhandig wat 'n bydrae tot die uitbouing van die Sondagskool, maar veral die van die koninkryk van God gespeel het.
Dawid sê vir Goliath die stryd aan.
Hoewel Slangrivier die hooftoneel oor die wysheid van Salomo opgevoer het, was dit Riversdal se opvoering van die fyngeboude 'Dawid' wat soos 'n wafferse klipgooier 'n veel groter 'Goliath' met die grond kennis laat maak het en is hy staande toegejuig.
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'