Update
ALBERTINIA NUUS - Die Suid-Kaap Byebedryfvereniging (SKBBV) is besorg oor die afname in byegetalle.
Dit was een van die besprekingspunte op die agenda van die vereniging se algemene jaarvergadering wat Saterdag 2 Maart op voorsitter André de Jager se plaas, Swartklip, naby Albertinia gehou is.
Die langdurige droogte, gebrek aan voeding vir bye en onoordeelkundige gebruik van insekdoders op veral kanola is die grootste rede vir die afname. Dit skep 'n tekort aan bye vir die lewering van bestuiwingsdienste.
Die gebrek aan kommunikasie tussen byeboere en kanolaboere is ook bespreek. Volgens De Jager is daar tydens 'n vergadering wat op 7 Februarie by LNR Stellenbosch gehou is, 'n samewerkingsooreenkoms tussen die twee belangegroepe aangegaan.
Dié vergadering is geïnisieer deur Graan SA en is ook deur Bayer Croplife en verteenwoordigers van verskeie maatskappye wat chemiese insekdoders verkoop, bygewoon. "Die meeste graanboere volg bewaringsboerderypraktyke en wil eerder bewaar as vernietig," het De Jager gesê.
"Ons houding moet verander, want ons wil nie oorlog verklaar teen gifhandelaars en kanolaboere nie," het Kobus Vos, bestuurslid gesê.
"Byeboere moet ook hulle deel van die ooreenkoms nakom deur toestemming by grondeienaars te vra om swerms by kanola te plaas en die veiligheid van mense en diere in gedagte te hou," het De Jager bygevoeg.
'n Nuwe selfoon-toep, BEEMAP, wat kanolaboere sal help om byeboere tydig in kennis te stel wanneer die kanola bespuit gaan word sodat hulle hul korwe kan verwyder, is ook bespreek. Die selfoon-toep sal by SKBBV se velddag in Junie verder toegelig word. Die datum sal later bekend gemaak word.
Die SKBBV se affiliasie met die Suid-Afrikaanse Bye-industrie-organisasie (Sabio) het weer ter sprake gekom. "Is Sabio nog van toepassing vir ons?" wou 'n lid weet. "Ons betaal ons heffing, maar hoor nooit waarmee hulle besig is nie." Volgens De Jager is Sabio se bestuur wel besig om agter die skerms en sonder enige vergoeding hard te werk om sleutelkwessies aan te spreek.
Ten einde kommunikasie binne die vereniging te verbeter, is 'n nuwe lid André Kruger, vennoot van bestaande lid John Stoltz van Free Range Honey, as sekretaris aangewys. Hy sal ook die moontlikheid van Facebook-kommunikasie met lede ondersoek.
Die bestuur bly dieselfde, met De Jager as voorsitter, Sauerman as tesourier, Kobus Vos, Thys Rall, Oubaas Muller en André Kruger, sekretaris.
Registrasie van alle byeboere is ook opnuut beklemtoon. Selfs al het 'n byeboer net een korf, moet hy/sy registreer. Registrasie is gratis. Die vorms is by Sauerman beskikbaar by rynasauerman@gmail.com of suidkaapbye@gmail.com
Lees 'n vorige artikel: Suid-Kaap byeboere hou jaarvergadering
Lede van die SKBBV wat die algemene jaarvergadering op Swartklip bygewoon het is voor, van links: Herman Venter, Jeremy Laurie, John Stoltz, Thys Rall en André Kruger. Agter: Kobus Vos, John Moodie, André de Jager, Willie Janse van Rensburg, Oubaas Muller, Herman de la Querra en Ryna Sauerman. Foto: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'