STILBAAI NUUS - Plaaslike buurtwaglede het 'n besige feestyd gehad om inwoners en besoekers se veiligheid te help verseker.
Tussen 13 Desember en 12 Januarie is op versoek van Stilbaai-polisie ekstra patrollies gedoen.
Volgens Pieter Lategan (hoofkoördineerder) is 'n totaal van 152 patrollies uitgevoer, wat sowat 304 man-ure beteken. Elke patrollie duur ongeveer twee ure en as die algemene patrolliespoed van ongeveer 20 km per uur as maatstaf gebruik word, beteken dit meer as 6 000 km is in dié tyd gery. Benewens die subforum-plaaswag se berede patrollies op die strandgebied het die polisie ook ekstra dienste gelewer.
Die misdaadsyfer in Stilbaai en omgewing het oor die afgelope maande skerp afgeneem. Eiendomsgerigte misdade wat inbrake insluit het met meer as 70% gedaal. Buurtwaglede se oplettendheid het daartoe gelei dat vermoedelik gesteelde diesel teruggekry is na die bewegings van verdagte persone dopgehou is. In 'n ander geval het 'n buurtwaglid na 'n lang soektog in die bosse bokant Stilbaai-Oos 'n gesteelde fiets teruggevind.
Vir administratiewe doeleindes is die 10 verskillende buurtwagte onlangs in drie groter groepe gekonsolideer en by die departement van gemeenskapsveiligheid van die Wes-Kaapse regering geakkrediteer. Die departement het op 13 Desember aan die drie buurtwagte en die subforum-plaaswag toerusting wat roterende wit ligte, glimbaadjies en flitsligte insluit, geskenk. 'n Bedrag van R10 000 word ook aan elke buurtwag vir die aankoop van verdere toerusting oorbetaal. Die patrolleerders doen die diens sonder enige vergoeding en stel so die polisie in staat om op ander dienste te fokus.
Volgens Lategan bly dit steeds die strewe van die Stilbaai-buurtwagte om saam met die subforum-plaaswag en die plaaslike polisie die vreedsame en veilige leefwyse van almal op Stilbaai te beskerm.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'