HESSEQUA NUUS - Buurtwagte wat tot die einde van Mei aan dieselfde beperkings ten opsigte van beweging onderworpe was as enige ander burgerlike persoon, is nou weer vry om met patrollies voort te gaan.
Volgens die hoof-koördineerder van die Stilbaai-buurtwagte, Pieter Lategan, was daar dadelik vrywilligers wat vir diens aangemeld het toe die kommissaris van polisie op Vrydag, 5 Junie magtiging vir voertuigpatrollies gegee het.
Lategan verduidelik dié magtiging is aan die uitreiking van 'n permit vir die verrig van noodsaaklike diens onderhewig en streng voorsorgmaatreëls moet nagekom word: "Lede op patrollie sal deurentyd maskers dra. 'n Verdere plaaslike maatreël is dat patrollies uit nie meer as twee persone mag bestaan nie en dat die persone, indien enigsins moontlik, lede van dieselfde huishouding moet wees."
Buurtwaglede wat tydens die afgelope twee maande gefrustreerd gevoel het omdat patrollies nie uitgevoer kon word nie, het hulle egter nie laat onderkry nie en waarnemingskofte is vanuit lede se eie persele gedoen. Lategan sê egpare wat gewoonlik saam diens verrig het ook saam aan die middernagtelike 'dophouery' deelgeneem: "Koffie drink op die stoep in die vroeë oggendure het vinnig posgevat."
Hy sê misdaad was oor die algemeen tot dusver tydens grendeltyd laag en hulle bedank Stilbaai-polisie vir hul sigbare en gereelde patrollies.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'