HEIDELBERG NUUS - "Ek verstaan julle frustrasies en kan jul verseker dat ons die nodige aandag daaraan skenk om dit so spoedig moontlik op te los," het Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, onlangs tydens 'n ontmoeting met vier lede van die Diepkloofkomitee gesê.
Die komitee is vroeër die jaar tydens die provinsiale minister van menslike nedersettings, Bongikosi Madikizela, se besoek verkies om die beweerde ongerymdhede oor die behuisingskwessie van die Diepkloof-uitbreiding uit te wys.
Margaret Jacobs, voorsitter: behuisingsportefulje en burgemeesterskomiteelid, Chris Onrust, direkteur gemeenskapsdienste en HP Michaels, behuisingsbeampte het saam met Riddles die verrigtinge by een van die lede se huis bygewoon.
James Gelderbloem en Tom Pretorius, wyksraadslede vir wyke 4 en 5, asook Jennifer Hartnick, proporsionele raadslid was ook teenwoordig.
Dean Prins wat saam met twee ander oor onwettige besetting van sy huis aangekla is, het sy ontevredenheid uitgespreek oor die feit dat spesifiek net teen hulle drie opgetree is.
Van die komiteelede se frustrasies is onder andere dat daar baie ongerymdhede met die toekenning van huise is aan veral plaasmense, asook die wat in ander dorpe woon; toekenning aan persone wie se salarisse hoër as die vereiste is; dat nie net twee beamptes mag besluit oor watter begunstigdes huise moet kry nie, asook dat streng volgens die waglyste gehandel moet word.
Prins het 'n ernstige pleidooi vir deursigtigheid gerig met verwysing na die waglyste. Hy het teen nepotisme en korrupsie met die toekenning van huise uitgevaar.
Die huis se mure is bekrap deur vandale.
Michelle Johannes, wat voorheen een van ongeveer vyf aansoekers was wat glo SMS'e vanaf Emor Nel, voormalige burgemeester, gekry en wat hulle daarvan verseker het dat hul huise sou kry, het gevra dat ernstig na haar dilemma gekyk moet word.
Volgens Johannes het sy al in 2004 aansoek gedoen. Sy het, met verwysing na een huis wat erg gevandaliseer is, gesê dat sy en haar man bereid is om self die huis te herstel indien hul eienaarskap van die erf kan kry.
Riddles het die versekering gegee dat hulle al die beweringe ernstig opneem en dat dit aan 'n ouditkomitee oorhandig is om te ondersoek.
"Die ondersoekproses is tans aan die gang en sal volledige terugvoer aan die gemeenskap teen einde November verskaf word na die afhandeling van die ondersoek."
Jacobs het op haar beurt bevestig dat hulle 'n evaluering gaan doen van alle leë huise in die hele streek. Sy het ook van die lede se dokumentasie in ontvangs geneem.
Van links is Alice Februarie, Michelle Johannes, Dean Prins en Johanna Tarentaal, wie se gesigsuitdrukkings boekdele spreek.
Kommentaar deur Chris Onrust:
Hessequa-munisipaliteit is deurgaans daartoe verbind om deursigtig te handel in terme van die Batho Pele beginsels.
Die bewerings van ongerymdhede, nepotisme en korrupsie is ongegrond en word as verdagmakery bestempel wat nie in goeie trou gemaak word nie. Gevolglik word dit deur die munisipaliteit in totaliteit verwerp.
Die minister van menslike nedersettings het tydens sy besoek versoek dat gegriefde inwoners verteenwoordigers moet aanwys wat behuisingsverwante kwessies op Heidelberg aan sy ministerie moet bevorder vir ondersoek, wat wel gedoen was.
Terugvoering deur die minister self, senior departementele amptenare en die munisipaliteit was op 15 Mei vanjaar gegee, maar was nie goed deur die gemeenskap verteenwoordigers en gemeenskap van Heidelberg ontvang nie en moes die vergadering verdaag word.
Die doel van die geskeduleerde vergadering was juis om terugvoering te gee oor die stand van sake soos deur hulle geopper, asook voortgesette prosesse wat steeds aan die gang is.
Tans word gesprek met Asla, die raad se behuising implementering agent gevoer aangaande herstelwerk van die gevandaliseerde wonings.
ARTIKEL EN FOTO'S: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'