Update
STILBAAI NUUS - Dis baie duidelik dat die samewerking van Stilbaai-sakekamer en die Brugmark-komitee besig is om vrugte af te werp.
Ten spyte van die slegte weer en ander aktiwiteite in Stilbaai het 51 stalletjiehouers en talle inwoners Saterdagoggend, 18 Junie, na die mark gestroom.
Daar is 'n groot verskeidenheid eetgoed en die pannekoekry word nooit korter nie. Vir die jongspan is daar altyd iets en natuurlik is daar stalletjies wat pa en ma se aandag trek.
Volgens Jenny Book, wat in beheer van die stalletjies is, beoog hulle om nog sowat 10 stalletjies by die bestaandes te voeg. Dus behoort hulle so 60 stalletjiehouers op 'n Saterdag te akkommodeer.
PC Oosthuizen, voorsitter van die Brugmark-komitee, is baie opgewonde oor al die verwikkelings en is veral trots op die groot onderdakarea wat opgerig word om mense wat by die Brugmark wil sit en eet, te akkommodeer. Dit was tot dusver 'n groot tekortkoming en sal binne die volgende twee tot drie weke voltooi word.
Antoinette van Wyk, wat in beheer is van bemarking, het ook groot planne en hulle het byvoorbeeld Hessequa-munisipaliteit se brandweer daar gehad om vrae van die publiek te antwoord en ook om demonstrasies te lewer. Daar wag nog heelwat verrassings in die toekoms, sê sy.
Op 'n Saterdagoggend is die Brugmark beslis dié plek om te wees, of jy net kom ronddrentel of na iets spesifiek soek, almal is welkom. Die kans is baie goed dat jy daar gaan wegstap met iets lekker, iets mooi of selfs met iets handig.
Die Brugmark is elke Saterdag van 09:00 tot 14:00 gereed vir besigheid.
Die Stilbaaise Brugmark word elke Saterdag van 09:00 tot 14:00 druk besoek.
Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'