STILBAAI NUUS - Jan Heenop maak die sogenaamde oorbruggingsjaar 'n groot avontuur hier in Stilbaai.
Daar is 'n legio verskillende maniere vir jongmense om die jaar na gr. 12 aan te pak. Party gaan universiteit of kollege toe. Baie gaan werk direk na skool en heelwat sukkel om werk te kry en lê maar by die huis.
Daar is egter ook 'n groot klomp jongmense wat 'n oorbruggingsjaar (gap-jaar) vat. Dit gee hulle dan die geleentheid om te besluit wat hulle uit die lewe wil hê. Party spandeer hierdie jaar op die rusbank voor die TV of rekenaar. Ander gaan toer en verken die wye wêreld daar buite of doen los werkies.
Hier op Stilbaai pak Jan Heenop met sy Internasionale Akademie vir Leierskap deur Avontuur hierdie oorbruggingsjaar baie anders aan.
Sy filosofie is dat studente aanpassings moet maak. Hul alleen kamers word gedeelde ruimtes met baie aktiwiteite en interaksie.
Studente werk aan hulle vaardighede. Foto verskaf
Identiteit en verantwoordbaarheid is die groot doelwitte. Heenop sê dat tydens Covid het mense in isolasie met moeite selfgemotiveerd gebly. Persoonlike groei kom nie binne gemaksones nie.
Die jong klomp leer dus wat vasbyt is en dit raak tweede natuur.
Suid-Kaap Forum het Heenop en sy studente Dinsdag 21 Februarie by die Stilbaai-hawe in die see aangetref waar hulle besig was met seeswem. Hy sê seeswem is vir almal 'n groot aanpassing.
Vir party studente is dit werklik moeilik, maar hulle taak is om die studente te help om "te wil leer," al is dit nie gemaklik nie.
Hierdie week doen hulle ook 'n intense mediese kursus en volgende week gaan hulle Hermanus toe om die golwe en seestrome te leer ken. Hier gaan die studente hulle eerste kampervaring hê, in die berge stap en meer leer van die Suid-Kaap se fauna en flora.
Heenop som op deur te sê dat hulle goed vorder. Die studente begin inpas en die kuiers word meer.
Die Akademie skep geleenthede vir leer en die span neem teen mekaar deel om groepsdinamika te ontwikkel.
Op sigself is selfmotivering 'n uitdaging, maar dit is noodsaaklik vir elke individu om die vaardigheid aan te leer sodat hulle suksesvol aan hul loopbane kan begin werk.
Studente raak stil met pragtige Stilbaai-sonsondergang. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'