HESSEQUA NUUS - Dit was baie jare terug tydens 'n groot onbeheerde plantasiebrand, toe twee van die plantasiepersoneel besig was om met bospikke alle geute af te ruk.
Min het hulle geweet hierdie is 'n soort voorsorgmaatreël in tyd van nood om infrastruktuur te beskerm.
In verdere navrae en statistiek oor die afgelope jare is dit oor en oor bewys dat geute vol plantmateriaal een van die hoofoorsake is wanneer huise afbrand.
Kole word oor 'n groot afstand deur die wind versprei, beland in 'n vuil geut en slaan aan die brand en die huis word vernietig - veral houthuise bied baie min weerstand en word gewoonlik total vernieitig.
Daar is egter metodes om jou eiendom te beskerm en so ver moontlik voorkomend op te tree om skade tot die minimum te beperk indien 'n eiendom in die pad van 'n aankomende vuur is. Die Suid Kaap Brandbeskermingsvereniging (SCFPA) is nou betrokke met ons lede om die onderstaande so ver moontlik te implementeer. Op die manier word verliese beperk en aan wetgewing voldoen.
Onthou om altyd die wetstoepassingsbeamptes/brandweerdiens se voorkomende optredes en versoeke na te kom. Soms is ontruiming van eiendom in die pad van 'n aankomende vuur onvermydelik, al word alle voorsorgmaatreëls vir beskerming getref.
Riglyne om eiendomme so ver moontlik teen aankomende brande te beskerm:
• Bepaal die kwesbaarheid van die eiendom
Indringerplantegroei, beboste gedeeltes en plantasies naby 'n eiendom verhoog die brandlading en intensiteit van veldbrande geweldig. Eiendomme in die pad van gereelde sterk en droë winde se kwesbaarheid is ook hoog. Indien 'n eiendom aan die bokant van 'n helling geleë is, verhoog die kans om vinnig deur 'n veldbrand oorval te word. Vuur brand baie vinniger saam met die wind teen 'n helling op.
• Skep 'n oorleefbare ruimte
'n Oorleefbare ruimte is die ruimte wat jy moet skep om die waarskynlikheid dat die eiendom aan die brand sal slaan tydens 'n veldbrand, te verminder. Dit kan gedoen word deur die uitleg, boumateriaal en brandstowwe (alle brandbare materiaal) aan te pas. Die afstand van die oorleefbare ruimte word veral bepaal deur die tipe plantegroei naby die eiendom en die helling waarteen dit gebou is. 'n Goeie riglyn is 'n oorleefbare ruimte van minimum 10 m breed, as die omringende plantegroei baie laag is en die topografie plat is. In die geval van erg beboste gebiede teen 'n 25% helling word 'n oorleefbare ruimte van minimum 60 m aanbeveel - maar hoe breër hoe veiliger.
Gemeenskaplike oorleefbare ruimte word geskep as nabygeleë eiendomme se oorleefbare ruimtes oorvleuel. Bure kan saam werk volgens 'n bepaalde plan om dié tipe ruimte te skep. Elke grondeienaar bly egter steeds vir sy eie eiendom se veiligheid verantwoordelik.
Gemeenskapsontbrandingsones sluit die Wildeland stedelike randgebied, privaat en publieke grond in. Dit kan verwys na 'n oorlewingsruimte (byvoorbeeld 'n brandbaan) wat eiendom omring om 'n veilige sone tydens 'n veldbrand te skep.
• Brandontwerp binne die oorleefbare ruimte
Die oorleefbare ruimte moet in die buffersone, medium weerstandsone en lae weerstandsone verdeel word. In die sones moet die tuin beplant word volgens die risiko en afstand van elke sone vanaf die infrastruktuur. Die gebiede naaste aan die huis is die belangrikste om die effektiwiteit van die oorleefbare ruimte te verseker. In al drie sones moet plantegroei uitgedun en onderhou word. Hou al drie sones skoon van dooie plantmateriaal en verwyder droë blare en takke. Skirt hoë bome in die sone tot goed bo die hoogte van die ander plantegroei. Dit sal verhoed dat die vuur van die grond na bome versprei. Oor die algemeen behoort alle hoë bome in die medium en lae weerstandsones tot die minimum beperk te word.
Maak seker plantegroei word so onderhou dat geen takke aan enige infrastruktuur raak nie. Hou geute skoon en blaarvry.
Plant beddingplante, vetplante en bolplante wat oor die algemeen moeilik brand. Plant gras wat goed onderhou word en groen bly rondom infrastruktuur.
• Verminder brandstof in die totale oorlewingsruimte
Digte plantegroei kan 'n oop roete vir die verspreiding en intensiteit van 'n brand skep. Hou plante yl in al drie sones. Verwyder alle dooie takke en dun struike en bosse uit. Groepeer struike en bosse om eilande te vorm en die brandlading dus nie-aaneenlopend te maak.
Moenie boomspesies met 'n hoë olie- en gomvlak plant nie. Verwyder sulke spesies in al drie sones.
• Verwyder indringerplante
Volg verwydering ook op om hergroei en opkoms van saad te beperk. Verwyder die materiaal wat afgesny word om die brandstoflading te verminder. Plantdoders wat spesifieke indringerspesies teiken kan ook gebruik word. Verwyder plantmateriaal wat gevrek het.
• Brandbestande plante bestaan nie
Die aanname dat sekere plante nooit sal brand nie is keer op keer al verkeerd bewys. Aalwyne byvoorbeeld wat naby infrastruktuur geplant is kan brande vertraag deur straalhitte van'n aankomende brand te absorbeer, maar alle plante sal uiteindelik brand as die vuur warm genoeg is.
• Gebrande sones moet herbeplant word
Indien daar wel 'n brand plaasgevind het, kan die gebrande gebiede van die begin af met vuur-aangepaste plante gevestig word.
Onthou om vir elke eiendom 'n spesifieke brand-ontwerpplan saam te stel wat net op daardie spesifieke eiendom van toepassing is. Die Suid-Kaap Brandbeskermingsvereniging (SCFPA) poog om deur middel van perseelbesoeke en praktiese oplossings lede te help om die buffersone, medium weerstandsone en lae weerstandsone per eiendom te identifiseer en die sones te brand-ontwerp.
Kontak ons gerus by 028 713 1987 of 079 485 5320 vir meer inligting, of per e-pos by scfpa.riversdale@gmail.com.
Besoek gerus ook ons webtuiste by www.scfpa.co.za
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'