Update
HESSEQUA NUUS - Goeie reëns die afgelope tyd het boere weer moed gegee.
Op Johannes en Geoffrey Joubert se plaas Kweekkraal, waar hulle langs die N2 met graan en skape boer, het dit 55 mm gereën.
"Dit het in November 2016 laas goed gereën, maar 2017 en 2018 was 'n riller," sê Johannes.
"Die wêreld was maar droog, maar nou lyk dit baie mooi en ons het die vooruitsig om binnekort goeie weiding te hê," sê Johannes. Volgens hom kom die onkruid op hul voorbereide landerye ook mooi op, wat hulle die geleentheid gee om dit dood te spuit voordat hulle middel-April koring, gars en kanola begin saai. "As dit so aangaan, sal dit vanjaar makliker gaan."
Volgens Boet van Zyl van die plaas Skilpadgat naby Albertinia, wat met volstruise en graan boer, het dit op die verskillende plase waar hy boer tussen 25 en 70 mm gereën. "Ons het lekker reën gehad, maar dit sal 'n ruk vat voor die weiding regkom – ons sal vir nog so 'n maand moet voer. Daar sal nog opvolgreën moet val voordat ons sal kan sê die droogte is gebreek."
Andrew Jonker van die plaas Tolange by die afdraai na Stilbaai sê dit het 47 mm by hom gereën. "Dit is verstommend hoe gou en mooi die veld verander, want die grond is nog warm en die dae is nog lank genoeg. Ons het op Maandag 11 Maart al begin voergewasse (gars en hawer) plant. Dit was die eerste keer dat ons so vroeg klaargemaak het met weiding plant, maar dis nog te vroeg om oesgewasse te plant."
Jonker boer met dubbeldoelskape en omdat hy 'n aggressiewe voerprogram gevolg het, was dit nie nodig om die getalle te verminder nie. "Dit was duur om te voer, maar 'n mens kan nie die diere laat maer raak nie. Wanneer die reën kom, maak die natuur weer op daarvoor," sê hy.
"Ons is baie dankbaar vir die goeie reëns wat oor die hele SSK-bedieningsgebied geval het," sê Erenst Pelser, hoof- uitvoerende bestuurder van SSK.
"Dit bring groot verligting vir die boere wat nou kan lusern plant en nie meer broodnodige voer sal hoef te koop nie.
Die grondvogtoestande maak dit ook ideaal vir die beplande planttyd eersdaags. Ons vertrou dat daar nog reën op pad is."
Lees 'n vorige artikel hier: Goeie reëns gee boere moed
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'