Update
SUID-KAAP NUUS - 'n Boek oor blomplante van Suid-Kaapland, geskryf en geïllustreer deur Pauline Bohnen, plantkundige kunstenaar van Riversdal, het vir die eerste keer in 1986 verskyn.
Bohnen het aan die destydse Hugenote Universiteitskollege studeer en haar MSc in plantkunde in 1939 behaal. In 1940 begin sy by die Compton-herbarium by Kirstenbosch werk. Later werk sy by die Nasionale Herbarium (nou die Staatsherbarium) in Pretoria.
In 1948 is sy as Suid-Afrikaanse skakelbeampte by die Herbarium in die Kew-tuine, London aangestel. Sy tree in 1950 in die huwelik en hervat eers weer haar botaniese werk in 1977, toe sy en haar man in Stilbaai en daarna in Riversdal kom woon.
In Stilbaai begin sy die blomplante van die omliggende gebied bestudeer en illustreer sy die boek met pragtige botaniese tekeninge.
In 1995 volg 'n tweede boek; Nog Blomplante van die Suid-Kaap. Hierdie tweede boek is steeds in hardeband beskikbaar op Stilbaai. Bohnen is in 1999 oorlede.
Die oorspronklike werk is deur die destydse Stilbaai Trust uitgegee, wat vandag as die Stilbaai Bewaringstrust bekend staan. Die plantkundige name in die elektroniese boek is deur dr Deon Begemann van Stilbaai opgedateer volgens die nuutste botaniese taksonomiese klassifikasie.
Dit bevat 90 bladsye beskrywende teks en 80 kleurplate wat 760 spesies uitbeeld.
Blomplante van die Suid-Kaap is tans beskikbaar in elektroniese formaat. Die boek is in hoë kwaliteit PDF-formaat wat die opsoek van alle name vergemaklik en die naby bestudering van die figure moontlik maak.
Die boek op 'n selfoon dien as uitstekende veldgids. Die inleiding gee die leser 'n goeie agtergrond oor die natuurgeskiedenis van die Suid-Kaap en hoe die geologie en menslike aktiwiteite die omgewing van vandag gevorm het.
Bohnen se twee kinders, Ewert Bohnen en Hermien Johannes ondersteun hierdie uitgawe ten volle. Die herdruk van die boek in hardeband is bemoeilik deur die feit dat die oorspronklike drukkers nie meer die oorspronklike data tot hul beskikking gehad het nie en dat die druk van 'n boek 'n baie duur proses is. Daarom is daar besluit om in lyn met die hedendaagse tegnologie die boek as 'n elektroniese legger te bemark en dit is gegenereer vanuit 'n bestaande harde kopie. Elke eksemplaar het 'n unieke wagwoord.
Die boek word deur Stilbaai Bewaringstrust uitgegee en is beskikbaar by Stilbaai-toerismekantoor teen 'n minimale bedrag van R100. Die inkomste van die boekverkope word deur die bewaringstrust vir verskeie gemeenskapsprojekte aangewend.
Begemann, redakteur van die boek se e-pos is begemannd@gmail.com en kan gekontak word vir meer inligting.
So lyk die voorblad van die boek.
Vorige artikel: Elektroniese weergawe van planteboek beskikbaar
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'