HESSEQUA NUUS - Die sinkende Eskom-skip en Suid-Afrikaners wat daagliks onder beurtkrag moet saamleef, is vasgevang in 'n bose kringloop met geen gelukkige einde in sig nie. Dis nag.
Besighede, groot en klein, bloei miljoen rande omdat Eskom nie die ligte kan aanhou nie. Iets wat die ANC-kabinetsministers min kan skeel, want hulle kry gratis krag. En dis veral klein en middelgrootte ondernemings op die platteland wat redelik afhanklik is van Eskom, wat swaar trek. Nie net beloop hul verlies aan inkomste duisende rande per maand nie, maar die bykomende besteding aan alternatiewe kragbronne en dieselaankope tap hul reserwes en vreet aan hul krimpende winsmarges wat hulle onder moeilike omstandighede moet uitkerf.
Suid-Kaap Forum het met 'n paar besigheidseienaars in Hessequa gesels om die impak van beurtkrag op hul besighede vas te stel.
OK Stilbaai
JC Janse van Rensburg en Nico Pretorius van OK sê dat die mense nog steeds koop. Wat hulle wel ondervind is dat mense nou tydens beurtkrag hulle inkopies doen.
OK het nog maar altyd kragopwekkers gehad, maar moes nou noodgedwonge opgradeer na 'n groter kragopwekker. Brandstofverbruik is tussen 50 en 60 liter vir elke twee ure en dan het hulle ook solar om die druk op die kragopwekker te verminder.
Met dié maatreëls in plek gaan hulle normaal voort met besigheid, maar hulle is deurentyd besig om krag te spaar en maak byvoorbeeld saans die deurlose yskaste toe om die koue binne te hou. Hulle verseker ook dat hulle spesifiek minder vars produkte op 'n slag bestel. Hulle is in die gelukkige posisie dat hulle gereeld aflewerings kry.
OK is nie van plan om die ekstra uitgawes, soos brandstof, van die verbruiker te verhaal nie en hulle absorbeer dus die verlies op hulle. Hulle is egter oorgelaat aan die verskaffers wat pryse kan opdruk en dit kan duurder produkte teweegbring.
Spar Stilbaai
Peet van Staden van Spar in Stilbaai sê die besigheid gaan normaal voort en daar was wel 'n verlies aan inkomste. Verbruikers se kooppatroon het wel verander. Mense koop nie sommer meer op grootmaat nie, omdat hulle bang is vir beurtkrag.
Spar het al sedert die begin van beurtkrag kragopwekkers, maar het wel opgradeer om die langer ure te kan hanteer. Brandstofverbruik werk uit op sowat R1 000 per uur, maar hulle het besluit om hierdie uitgawes self te absorbeer en het dus nie hulle pryse gelig nie. Hulle het ook begin om net die noodsaaklike yskaste, vrieskaste en koelkamers te gebruik en hulle bestel dus minder bederfbare en vars produkte per keer. Daar is ook 'n tendens dat verskaffers sukkel om vol te hou met die volumes en hulle lewer dus minder as in die verlede, veral bederfbare produkte.
Volgens Peet het beurtkrag 'n groot invloed op die hele samelewing en dit het beslis uitkringende gevolge op die ekonomie.
Allegaartjie Stilbaai
Thelma Oosthuizen en Didi Serfontein van Allegaartjie is dit eens dat beurtkrag wel vir hulle 'n verlies aan inkomste veroorsaak het aangesien hulle al vyf vrieskaste moes vervang. Hulle moes ook besluit of hulle dit gaan vervang en of hulle groter moet gaan. Die vraag is egter of die kragopwekker die ekstra las kan hanteer?
Met Covid en beurtkrag het hulle besluit dat hulle die verlies aan inkomste moet absorbeer en aanbeweeg. "Jy kyk hoe jy kan klaarkom met wat jy het en maak 'n sukses daarvan."
Allegaartjie het 'n klein kragopwekker gehad en toe hy breek het hulle 'n groter een gekoop om die swaarder las te kan dra. Hulle het die kleintjie reggemaak en met die twee kan hulle normaal aangaan met besigheid. Dit verg net baie beter beplanning en hulle bakkery bak byvoorbeeld net as dit nie beurtkrag is nie.
Meeste van die toerusting in die kombuis werk met gas, maar hulle brandstofrekening vir die kragopwekkers is nog steeds R4 000 per maand. Hulle het egter besluit dat hulle dit sal dra en nie van die verbruiker verwag om dit te absorbeer nie.
"Ons instink is om planne te maak en nie negatief te raak nie. Ons is egter bekommerd oor die toekoms en daarom is planne maak so belangrik."
Stilbaai Slaghuis
Maretta Herselman van Stilbaai Slaghuis sê hul besigheid gaan aan soos in die verlede, maar hulle moet anders dink en doen om beurtkrag doeltreffend te fnuik. "Die verbruiker kom na 'n slaghuis toe om vars vleis te koop en jy kan dus nie met 'n hoop gevriesde vleis sit nie. Kliënte koop ook nie sommer meer 'n hele lam of skaap nie, want hulle is bang vir beurtkrag."
Maretta sê alhoewel hulle vyf kragop-wekkers het, drie by die slaghuis en een elk by die twee deli's, gebruik hulle nie meer al die yskaste nie. "Net dit wat hulle nodig het. Die res van die voorraad is in die koelkamer. Sodra 'n kliënt instap gaan hulle na die persoon toe en vra waarna hy of sy soek en gaan haal dit dan uit die koelkamer."
Hulle het altyd kragopwekkers gehad, maar moes nog twee aanskaf vir die groter toerusting en voel dat hulle later sal moet opgradeer. Hul brandstofrekening is 'n allemintige R35 000 per maand, maar hulle absorbeer dit self en verwag nie van die kliënt om meer te betaal nie.
Beplanning is volgens Maretta uiters belangrik om die toerusting te beskerm. "Die koelkamer sukkel om op die regte temperatuur te bly as dit byvoorbeeld fase 6-beurtkrag is. Die kompressor gebruik meer krag met hoër fases en hoewel die besighei sure normaal is, is die res van die besigheid abnormaal.'
Voordat die vleis by 'n punt kom dat dit nie meer bruikbaar is nie, sal hulle die pryse afmerk, maar met hul hoë standaard sal hulle nooit substandaard vleis aan die kliënt verkoop nie.
Gatti's Stilbaai
Raldu Potgieter van Gatti's sê dat hy beslis 'n verlies aan inkomste het. Sy brand-stofrekening is R6 000 per maand vir die kragopwekker, maar hy kan darem as gevolg daarvan sy besigheid normaal bedryf met sekere aanpassings natuurlik. Roomys kan nie die fase 6-beurtkrag deurstaan nie en as roomys eers gesmelt het, kan hy dit maar weggooi.
Raldu maak seker dat sy vrieskamer en yskaste toe bly tydens beurtkrag om die koue binne te hou, maar dit gee net verligting.
Tydens beurtkrag werk sy kaartmasjien nie en daardeur verloor hy baie kliënte. Ongelukkig is die banke se OTM-masjiene dan ook buite werking.
Raldu roem daarop dat hy die ekstra onkostes self dra en hy sal nie sy pryse lig as gevolg van beurtkrag nie.
Masshire Stilbaai
Chris Olivier van Masshire sê dat hy 'n 2.5 kW-omskakelaar (inverter) het en dit is genoeg om sy besigheid se ligte en rekenaars aan die gang te hou. Hy wil egter later opgradeer na 5 kW en nog 'n battery wat sal veroorsaak dat alles in sy besigheid sal kan werk.
Tyremart Riversdal en Stilbaai
David Vosloo, eienaar van Tyremart in Riversdal en Stilbaai-tak sê: "My besighede self het nie 'n verlies gely nie aangesien dit soos normaal voortgaan omdat ek gedwing was om kragopwekkers aan te skaf, wat natuurlik tot ekstra uitgawes gelei het. Die diesel het ook 'n groot impak gemaak op die reeds genoemde onkostes. Die uitgawes sal ek nooit kan verhaal nie en die kliënte kan ook nie daarvoor boet nie."
Riversdal Superspar
André van Wyk, eienaar van Riversdal Superspar: "Beurkrag het verseker 'n verlies aan inkomste veroorsaak. Dit het 'n massiewe impak op ons maatskappy se netto wins weens die addisionele uitgawes wat ons moes aangaan om konstante kragtoevoer na die winkel te verseker.
"Ons het 18 maande gelede 'n groot krag-opwekker aangekoop wat die hele winkel van krag kan voorsien. Dieselaankope het 'n impak gemaak aangesien dit 'n baie groot uitgawe is waarvoor niemand vooraf kon begroot nie. Gelukkig was dit nie nodig om voorraad af te merk nie omdat die kragopwekker krag aan die hele winkel voorsien en ons yskaste dus nie deur kragonderbrekings geaffekteer word nie."
Wimpy, Riversdal
Rassie Erasmus, eienaar van Wimpy, Riversdal: "Ons het definitief 'n verlies aan inkomste as gevolg van beurtkrag gesien, maar het al 'n hele ruk gelede 'n kragopwekker aangeskaf sodat ons normale besigheid kan voortgaan. Omdat ons beplanning reg was, het ons nie nodig gehad om voorraad af te merk of weg te gooi nie. Op geen manier sal ons die onkoste kan verhaal nie, veral nie van klante nie."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'