Update
SUID-KAAP NUUS - Altesaam 530 ure se beurtkrag het Suid-Afrikaners verlede jaar tussen R59 miljard en R118 miljard gekos.
Navorsing deur die Wetenskaplike Nywerheidsnavorsings-raad (WNNR) het dié skoksyfers bepaal, berig Fin24.
Suid-Kaap Forum het na die invloed van beurtkrag op landbou gekyk.
Verskeie instansies het kommer uitgespreek oor die invloed van beurtkrag op landbou.
"Eskom se implementering van fase 2-beurt-krag het die Suid-Afrikaanse ekonomie onkant gevang," sê Nicol Jansen van Agri SA. "Vroeër waarskuwings kon 'n groot verskil vir boere en besighede gemaak het omdat hulle hul beplanning daarvolgens sou kon doen."
Beurtkrag het 'n impak op besproeiingsafhanklike en energie-intensiewe bedrywe soos tuinbou, suiwel, pluimvee en agro-prosessering wat meer as 25% van die land se voedsel produseer.
"Die las van beurtkrag is onaanvaarbaar. Ons het 'n ekonomie wat groei en wat alle Suid-Afrikaners kan ophef nodig." Die onbetroubaarheid van kragvoorsiening het saam met stygende elektrisiteitstariewe 'n ontwrigtende invloed op besigheidsbedrywighede en gaan met direkte en indirekte koste gepaard.
Koue-ketting
"Handhawing van die koue-ketting is krities om kwaliteit van voedsel en rakleeftyd te verseker. Die tafeldruif- en varsproduktebedrywe is spesifieke voorbeelde waar beurtkrag in die spitsseisoen ernstige gevolge vir die landbou inhou," sê hy.
"Alle pakhuise en koelkamers is afhanklik van elektrisiteit," sê Willem Bestbier, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Tafeldruiwe Industrie (SATI). "Die produk is hoogs bederfbaar en verkoeling vorm deel van formele en wetlik bindende internasionale fitosanitêre maatreëls. Pakhuise is uiters arbeidsintensief en duisende werks-geleenthede en bruto-uitvoerverdienste van meer as R7 miljard op plaasvlak is onmiddellik in gedrang."
Waterbestuur
Jacques Jordaan, uitvoerende hoof van die Inmaakvrugte Produsente Vereniging (IVPV) sê: "Vrugte is tans in verskillende rypwordingsfases en optimale waterbestuur is krities. "Kragonderbrekings het 'n direkte impak op die waterbestuurpraktyke in boorde en watertekorte kan in baie gevalle nie later reggestel word nie. Gevolglik word kleiner vrugte geproduseer wat 'n verlies aan inkomste vir die hele waardeketting inhou."
IN SHORT
Load shedding poses a threat to the fruit industry which is dependent on a regular watering regime, as well as cold storage after harvesting.
Lees 'n vorige artikel: Beurtkrag knou boerdery
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'