Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Twee beste vriendinne wat nie toelaat dat fisiese beperkinge hulle onderkry nie, het seëvierend uit die buiteland teruggekeer.
Hulle was deel van slegs 19 atlete uit die Wes-Kaap wat vir die nasionale span wat aan die internasionale paralimpiese junior atletiekkampioenskap in Switzerland deelgeneem het, gekies is.
Dis nie aldag wat twee internasionale atlete uit dieselfde dorp kom nie, maar Marlé van Wyk en Tinka Fox woon boonop net 'n huis weg van mekaar. Albei het op jong ouderdom kompeterend begin swem. Na twee jaar was dit tyd vir 'n ander sport en hulle het besluit om onderskeidelik na atletiek en velditems oor te skakel. Die gogga het gebyt en die afgelope drie jaar het hulle ernstig begin deelneem.
Marlé vertel dat hul onderskeie oefenprogramme en kompetisieskedules baie selfdissipline van hulle verg. Sy is 'n naelloper wat vyf dae per week op die atletiekveld en in die gimnasium oefen. Elke aand doen sy ook kragoefeninge by die huis.
Tinka oefen haar spiesgooi en gewigstoot items vier keer per week op die veld en doen daarna baansessies en trappe-werk. Meeste van hul afrigters is nie plaaslik nie en oefenprogramme moet mooi beplan word.
Die twee Dasse borrel oor van entoesiasme wanneer hulle van die ondersteuning wat hul ondervind het vertel. Hulle verklaar onomwonde dat die huidige mylpale onmoontlik sou wees sonder hul ouers, die familie-gesindheid in hul onderskeie spanne en die gemeenskap van Hessequa. Die volgende teiken in hul visier is die junior paralimpiese spele van 2024 wat in Parys sal plaasvind.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Langenhoven leerders by internasionale atletiek kampioenskap
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'