RIVERSDAL NUUS - Hoërskool Langenhoven leerlinge, Marlé van Wyk (gr. 12) en Tinka Fox (gr. 11), het Suid-Afrika vanaf 1 tot 4 Augustus in Nottwil, Switzerland tydens die tweede internasionale paralimpiese junior atletiekkampioenskap verteenwoordig.
Van Wyk het 'n eerste plek in die 200 m en 'n tweede plek in die 100 m verower, terwyl Fox 'n vierde plek in spiesgooi en 'n vyfde plek in gewigstoot behaal het.
Meer as 35 lande het deelgeneem, onder andere Spanje, VSA, Brittanje, Portugal, Egipte, Mexico en Italië.
Suid-Afrikaners was vir vier van die sewe rekords wat tydens die byeenkoms gebreek is verantwoordelik.
Volgens Van Wyk was Suid-Afrika die land met die meeste gees. Die Suid-Afrikaners se ondersteuning aan mekaar is haar beste herinnering. Fox se herinnering is die kameraadskap tussen die Suid-Afrikaners.
Sy sê die manier hoe almal mekaar hanteer, ondersteun, gelukgewens en régtig bly oor mekaar se prestasies was, is iets wat haar nog lank sal bybly.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'