STILBAAI NUUS - Twee netelige kwessies is onder meer tydens die jaarvergadering van dié dorp se belangeforum op Vrydag 22 Februarie by Palinggatoord se saal bespreek.
Voldoende watervoorsiening vir die groeiende dorp, asook die toekoms van erf 657, wat 'n groot gebied anderkant die Jongensfonteinpad beslaan, was van die knelpunte.
Die voorsitters- en finansiële verslae is sonder bespreking aanvaar. Al die huidige bestuurslede is vir die volgende termyn herkies, met die byvoeging van Deon Begemann en Johan Botha. Die portefeuljeverkiesing sal tydens die volgende bestuursvergadering in Maart gedoen word.
Die eerste spreker aan die beurt was die omgewingspesialis, Niel van Wyk. Hy het verduidelik hoe die waterdraende formasies in en om Stilbaai saamgestel is en beklemtoon dat dit onmoontlik is om te weet hoe groot die kapasiteit van 'n fontein is en wanneer die water daarin 'n kritiese vlak bereik. Daar is ook bedreigings vir waterbronne, soos klimaatsverandering wat hoër vlakke van verdamping meebring en terselfdertyd laer reënval tot gevolg het. Die gepaardgaande styging in die seevlak kan ook versouting van grondwater veroorsaak.
Harold Basson, direkteur van tegniese dienste, Hessequa-munisipaliteit, het aangesluit by die onderwerp met die vraag of Stilbaai uitbreidings en ontwikkelings teen die huidige tempo kan hanteer. Volgens Basson is die detail meesterplan wat die munisipaliteit in plek het vir elk van die nege Hessequa-dorpe, heeltemal voldoende vir enige ontwikkelings. Vanjaar word alreeds begin met die opgradering van kritiese komponente van die infrastruktuur in Stilbaai. Die gewraakte rioolreuk in die omgewing van die gholfbaan behoort ook binnekort iets van die verlede te wees met die opgradering aan die kapasiteit van die rioolsuiweringswerke wat vroeg hierdie jaar sal begin.
Die geohidroloog, Dirk Rudolf, wat deur die provinsiale regering aangestel is om grondwater-monitering en -studie in Hessequa te doen, het daarna verduidelik dat goeie vordering gemaak word om addisionele waterbronne vir die omgewing te ontwikkel. Hy het egter 'n streng waarskuwing gerig dat waterverbruikers sal móét leer om te spaar. Die ontwikkeling van nuwe bronne raak al duurder. Inwoners moet ook meer inheems tuinmaak en saamwerk om uitheemse bome en plante uit te roei. Inheemse plante benut die beskikbare water baie meer effektief.
Op die vraag waarom ontsouting nie meer algemeen gebruik word nie, het hy geantwoord dat ontsoutingsaanlegte baie duur is en dus slegs as laaste uitweg gesien word.
Erf 657 was al die onderwerp van vele bespiegelinge met betrekking tot moontlike ontwikkelings. 'n Verslag oor biodiversiteit en 'n etno-botaniese ontleding van die betrokke stuk grond is onlangs deur wetenskaplikes van die Nelson Mandela Universiteit, in opdrag van die belangeforum gelewer. Dit het getoon dat daar genoeg rede is om verdere studies van die ekologiese balans in die gebied aan te vra voor 'n finale besluit geneem word oor die toekoms van die erf. 'n Strokie op teen die Jongensfonteinpad word geklassifiseer as 'n kritiese biodiversiteitsgebied, terwyl die res in hierdie stadium belangrik is, maar nie krities nie.
Insekte, voëls en klein soogdiere word saam met die plantlewe in ag geneem. CapeNature bestudeer nou die verslag.
Niel van Wyk is aan die woord. Foto's: Deona Aucamp, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'