Gallery Update Video
SLANGRIVIER NUUS EN VIDEO - Na meer as vyf dekades se verlange om sy familie op te spoor is Alec Danster (81) terug by hulle.
Danster, 'n boorling van Kliptown net buite Johannesburg, het 54 jaar gelede sy familie agtergelaat en saam met sy vrou Maria na haar geboortedorp vertrek en in die Onderrivier gevestig. Maria, wat hom al 'n hele paar jaar gelede ontval het, het as verpleegster by Coronationville-hospitaal gewerk. Hulle het ook daar ontmoet.
Sowat drie jaar gelede het Suid-Kaap Forum van Danster se dilemma verneem.
Na verskeie koerantberigte en plasings op sosiale netwerke is sy familielede ongeveer twee maande gelede in Johannesburg opgespoor.
Volgens Danster, die oudste van die kroos, het hy twee broers, Eddie en Stanley, asook vier susters, Minnie, Maureen, Joan en Sylvia, agtergelaat. Hy het hulle 40 jaar laas gesien.
Fotogalery: Bejaarde met familie herenig
Tydens die hoogs emosionele herontmoeting is bevestig dat Danster op 27-jarige ouderdom in 1965 saam met sy vrou weg is. Volgens sy broer Eddie en sy susters Joan en Sylvia, die enigste oorlewende sibbe, is hul pa ongeveer 45 jaar gelede oorlede.
Sean en Beverley Danster het ook die herontmoeting bygewoon. Sean is die seun van Joan (Danster) Perry. Danster se oorlede suster Maureen se drie dogters, Gloria, Margareth en Muriel het ook vir die geleentheid by hulle aangesluit. Laasgenoemde woon in Somerset-Wes, terwyl die ander twee vanaf Johannesburg gevlieg het om die geleentheid by te woon.
Lesley en Victoria Hartnick by wie Danster tans woon, het Sondagmiddag 10 November 'n dankseggingsdiens by die Rivervalley-klub vir bejaardes - waarvan Danster 'n stigterslid is - gehou. Die diens is deur Hartnick se ouers bygewoon.
Kyk 'n video hieronder:
Tydens die diens het Perry die aanwesiges meegedeel dat hy aanvanklik nie kon glo sy langverlore oom leef nog nie. "Dit was so onwerklik vir my dat ons oom Joey, soos hy destyds in Kliptown bekend was, nog leef," het hy aangedaan gesê.
Perry beplan dat sy oom by hulle in Johannesburg sal kuier gedurende die Desembervakansie. "Maar moenie bekommerd wees nie, ons sal hom nie daar hou nie, ons kan sien hy is in Slangrivier ingewortel. Hy sal weer terugkom."
Danster het sy broer, susters en hul kinders bedank dat hulle nooit hoop om hom te vind opgegee het nie. "Ek is net spyt dat ons nie vroeër bymekaar kon uitkom nie," het hy bewoë gesê.
Een van Maureen (Danster) en Zip Lee se seuns, Trevor Charles Lee, het ook in 1965 in Johannesburg verdwyn. Volgens die familie se inligting was Lee ongeveer 13 jaar oud toe hy in die trein op Parkstasie geklim het. "Ons het nooit weer van Trevor gehoor nie. Ons vermoed hy het hom iewers in die Wes- of Oos-Kaap gevestig."
Enigiemand met inligting oor Lee kan sy suster, Margareth (Mayroenisha) Karani by 079 183 7057 of Clive Pretorius per e-pos by pretoriusclive@gmail.com kontak.
Van links: Joan Perry, Sylvia Klassen, Alec Danster en Eddie Danster. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Lees 'n vorige artikel: Familie na 54 jaar herenig
'Ons bring jou die nuutste Slagrivier, Hessequa nuus'